Psalm 10
Vers 1
Waarom, o HEER, bly U so ver weg staan?
Waarom verborge wanneer my moed taan –
terwyl trotsaards die verdrukte beskaam?
Laat hom gevang word wat 'n lis beraam;
wat juig wanneer sy plan hom sal geluk,
en wat prys wanneer die woekeraar verdruk,
maar wat God verag en grootspreek teen sy_ Naam.
Vers 2
Die Goddelose, wat neus omhoogsteek,
het vermetel met sy mond uitgespreek:
"Daar is geen God!" En rustig stap hy aan.
Hy is voorspoedig waar sy voetstap gaan:
"Hoog in die hoogte, eind'loos ver," dink hy,
"is God se gerig: geen loon of straf vir my."
En hy verag almal wie hom teë_staan.
Vers 3
Hy roem van vasstaan, nooit in die kwaad kom.
Hy vloek, bedrieg, gaan met verdrukking om;
sy tong spreek van moeite en onreg wreed.
Net soos 'n leeu wat loer, lê hy gereed.
Hy vang sy prooi deur aan sy net te trek
en hy sleep hom weg, diep in sy wegkruipplek;
die arme slag hy daar – wie sal dit ooit_ weet?
Vers 4
Hy smaad: "God vergeet, sluit oog, sien nooit meer."
Tree toe, en wil die arme red, o HEER;
dis genoeg as U maar sien, bewus is.
Ons gee dit oor in al ons kommernis
aan U, o HEER, die helper van die wees.
Verbreek die arm van slegtes wat U nie vrees,
vergeld hul die kwaad totdat daar niks meer_ is.
Vers 5
Die HEER is Koning, ewig en altyd:
die heidendom het vergaan, sy land uit.
Ootmoediges hoor U goedgunstiglik.
God sal hul hoor en sal die hart verkwik
van arm' en wees aan wie Hy reg verskaf,
maar op die verdrukkers daal sy strenge straf,
hul brose arm sal niemand meer kan ver_skrik