Psalm 69
Vers 1
Verlos en help my, o God, ek vergaan!
Ek 't in grondelose modder ingegly
waar daar geen enkele staanplek is vir my;
en oor my storm die waterdieptes aan.
Ek roep my hees en my oë versmag,
wagtend op U, wyl waters my siel oorwel.
Meer as die som van dit wat ek kan tel,
en ver meer as my eie geringe krag,
Vers 2
vermeerder my vyand in mag en goed,
wat my haat, my onskuldig vernietig wil.
Sonder oorsaak moet ek boet, dit aanvaar stil.
Daarom jaag en storm dit deur my gemoed!
Alleen voor U, o God wil 'k skuld bely.
My eie dwaasheid, ag, hoe klaag dié my aan.
Maar laat hulle om my beskaamd nooit staan
wie op U wag. U, o HERE, weet ek ly
Vers 3
en dat ek dra my smaad geduldig-stil
om U ontwil, o my HERE Sebaot!
Ja, selfs ook my geslag, dié verwerp my bot,
want 'n ywer vir u huis en u wil –
dit het my soos 'n vuur geheel verteer
en in my soos 'n vlam voortdurend gebrand;
smaadwoorde, maatloos, het op my beland
om U my HERE, terwille van U eer.
Vers 4
Ek kwel my siel met gevas en geween,
maar dit het vir my tot smaadhede geword.
In rou het ek ook met sakkleed my omgord,
en só geword 'n spotspreuk vir elkeen.
Die praters praat by poort en straat van my,
en die dronkaards sing hul spotlied nog 'n keer.
Maar ek – my gebed is tot U, o HEER!
In die tyd van genade, verhoor tog my.
Vers 5
in grote goedheid, neig na my u oor,
en deur die trou van u heil, verlos my weer.
Verlos en laat my uit die modderpoel keer
dat ek nie sink en my lewe verloor.
Wil, o HERE, die waters om my stuit,
en laat tog ook nie die dieptes my verslind;
of die put waarin ek my nou bevind,
laat hom tog nie sy mond nie bo my toesluit.
Vers 6
Verhoor my, want u guns is vir my goed,
wend u tot my in u goedertierenheid.
Aanskou my in u grote barmhartigheid,
want dit is benoudheid wat in my woed.
Verhoor my, HERE, verhoor my dan gou,
en maak dat dit hier om my heen weer is wyd.
Die skand' en smaad wat steeds aan my siel byt,
my teëstanders self, U ken hulle bou.
Vers 7
Dié smaad het my hart heeltemal gebreek;
ek is verswak, beef en wag op medely;
maar tevergeefs, want daar is geen troos vir my.
Hoe ek al om erbarming pleid en smeek,
Galspys gee hul my al was ek sterwend;
en met asyn wil hulle my dors verskrik.
Hul tafel – maak dit vir hul tot 'n strik:
dat hulle hul ondergang daar sal kan vind!
Vers 8
Slaan blind, doof die lig van hul oë uit,
en laat hul heupe altyd wankel en swik!
Stort u grimmigheid oor hulle deur u blik,
in 'n toornvuur wat hulle vaart sal stuit!
Maak van hul laar 'n eensaam woesteny,
want dit is hul wat belaster en verjaag
hom wie deur u smartwond swaar is geplaag.
Voeg skuld by hulle skuld, spreek hulle nooit vry
Vers 9
wil dat in u Boek hulle naam nie is
daarin nie saam met die regverdiges staan.
Al kleef, o HEER, die pyn altyd nou my aan,
sal ek van u skild van hulp ewig wis!
Daarvoor bring ek aan U my lof en prys,
ek maak die Naam van God in my danklied groot.
Dit sal die HEER wees allermees as bloot
vleis, en meer welgevallig as offerspys.
Vers 10
Dis sagmoediges wat dit sal aanskou
en wat sal bly wees as hulle dit beleef.
Laat die hart van dié wat hul tot God begeef,
herleef, want só met frisse krag bedou.
Die HERE hoor hul wat behoeftig is
sal wat kwyn in die gevang'nis nie afwys.
Laat die aarde en hemel Hom dan prys,
en ook dit wat die see deursweef. Ja, alles!
Vers 11
Want God sal Sion verlos, weer 'n keer,
en Hy sal Juda se stede weer herbou.
Dan sal God se volk sy erfdeel steeds hou
en sal wonings vind, dié wie sy Naam vereer.