Psalm 53
Vers 1
Die vermetele dwaas wat hoogwys spot,
sê in sy eie hart: "Daar is tog geen God."
Hulle dade maak hulle afskuuwlik, sleg,
daar is geeneen wat goed doen in sy weg,
slegs boosheid bot.
Vers 2
Die HERE het die mens se werk betrag,
neergesien uit hemelhoo en helder dag,
om te sien of Hy ook by die mensekind
verstandigheid mét ware Godsvrees vind,
wat op Hom wag.
Vers 3
Maar een-en-elk het tot die groter kwaad
tesaam in hul ontaarding, vir God verlaat.
Van almal is dit waar: hul dade is sleg,
daar is geeneen wat goed doen in sy weg,
nie eers een daad.
Vers 4
Is daar dan by die sondaar-onregskind,
hul wat my volk opeet en soos brood verslind,
tog geen kennis van die reine waarheid meer,
dat hulle die HERE nie soek en eer,
Hom nie wil vind?
Vers 5
Skielik het hul skrik geweldig gekom:
God slaan hul en deur sy oordeel word hul stom.
Want God het reeds verstrooi die beendere van
wie almal jou beleer en teen jou span –
só toon Hy Hom!
Vers 6
Jy het hul almal daar beskaamd laat staan,
want God verwerp en sien hul nie langer aan. –
Ag, mag maar ons bede nimmermeer verstom:
"Laat Israel se heil uit Sion kom,
ons smaad laat taan!"
Vers 7
As Israel se God in hul ellend'
sy eie volk se lotgevalle wil wend,
dan sal Jakob jubel en juig, bly van gees,
en Israelsvolk sal weer vrolik wees,
bly sonder end!