Psalm 46
Vers 1
God is waarlik toevlug in die nood,
'n rots wat altyd stewig bly staan,
al dreig die vyand met die dood,
al storm sy leërbendes aan.
Laat dit dan tog maar hier buig en beef
alles wat ons hier en nou omgeef;
laat berge wankel in die see –
ons sal nie beef of rugwaarts tree.
Vers 2
Laat hoog die seë se waters bruis
en in hulle woede skuim en klots;
laat berge dreun van golfgedruis
wanneer dit teen hul hoogtes bots.
Die rivier se waterstrome wat
reeds daar kronkel in en deur die stad
– hulle maak steeds die Godstad bly,
die heiligste waar Hy gedy.
Vers 3
God is daar binne-in, Hy hou wag;
so gaan die donker ure dan om;
Hy red wanneer die vroeë dag
goudglansend oor die berge kom.
In die wilde oorlog se gedruis
het nasies se krygers opgebruis,
koninkryke sink: Gods stem klink –
ganse wêreld beef voor sý wink!
Vers 4
Gewis onse HERE Sebaot
sal sy gedugte mag weer laat blyk;
in nag en storm sal Jakobs God
ons rotsburg wees wat nooit beswyk.
Kom almal nou nader en bemerk,
aanskou die HEER se verskriklik' werk;
hoe die wêreld voor Hom moet swyg
en in ontsetting weg moet wyk!
Vers 5
Die oorlog swyg op die HEER's bevel
so ver as die allerverste land;
die moordtuig om die mens te kwel,
verbreek Hy met Oorwinnaarshand.
Dit is Hy wat keer die oorlogs-kans
en deur sý krag, breek die boog en lans.
Voor die HEER het die spies geen duur –
oorlogswaens gaan op in vuur.
Vers 6
Hou op, en weet dat Ek is die HEER!
Ek sal verhoog wees bo alle vlees;
My sal die nasies sien en eer,
sodat hul My 'n volk sal wees.
Gewis onse HERE Sebaot
sal sy gedugte mag weer laat blyk;
in nag en storm sal Jakobs God
ons rotsburg wees wat nooit beswyk.