Psalm 64
Vers 1
O God, verhoor tog nou my gebed
wanneer ek smeek en roep, en red
my van die mens wat my belaag
en wat met sy skrik my wil verjaag –
vir my stel 'n net!
Vers 2
Verberg my vir die sluwe se raad
en wilde woeling van wie kwaad
teen my versin. Hul tonge smee
hulle spits soos swaarde, skerp van snee,
om leed uit te laat.
Vers 3
Soos pyle lê hulle woorde reg;
soos pyle vlieg hul skielik weg,
om heim'lik uit 'n skuilgewes
opregtes in die siel te kan kwes,
en vreesloos te veg.
Vers 4
'n Fyn beraamd' plan is vas en klaar;
gespan het hul èn strik èn snaar.
Die mens, in sondelus verward –
hoe diep, hoe grondeloos is sy hart,
wat steeds onreg baar!
Vers 5
Maar God se trefpyl lê ook al klaar,
en – skielik is hul wonde daar.
Hul éie tong verklaag hul al;
geheime kragte bring hulle val,
terwyl ander staar.
Vers 6
Al wie dit aansien, dié skud die hoof;
hul vrees en moet Gods werke loof
as hul aanskou èn nou èn weer
hoe God dit álles tot glorie keer,
die heidene roof.
Vers 7
Die regverdiges sal bly van gees
en vrolik in die HERE wees;
hul sal, daar Hy die wag wil hou,
met roemtaal steeds op die HEER vertrou –
almal wat Hom vrees.