Psalm 108
Vers 1
Hoe rus, o God, my hart in my
nou 'k U 'n môrelied kan wy.
Ontwaak met my, my harp, ontwaak!
Ek wil die rooidag wakker maak.
U trou en goedertierenheid,
tot bo die hemel uitgebreid,
sal ek verhoog bo alles wat leef
met psalmsang wat van ontroering beef.
Vers 2
Verhef U bo die hemel wyd,
en bo die aard' u heerlikheid!
Verlos u gunsvolk deur u hand,
verhoor ons, send ons onderstand.
God het dit uit sy tempel al
laat klink met hoogste jubelskal:
"Ek sal Sigems stad my eie heet
en sal Sukkot as my erfdeel meet.
Vers 3
"Oor Gilead sal 'k Heerser bly,
Manasse – dié is ook van My;
Éfraïm weer die aanval af,
en Juda is my veldheerstaf.
Van Moab sal 'k my waskom maak;
oor Edom, nog belus op wraak,
sal Ek wel in hoogheid triomfeer;
oor Filistéa, juig, jubileer."
Vers 4
Wie bring my in 'n vaste stad?
Wie baan na Edoms land my pad?
U is 't wat ons nie by wou staan,
nie met ons leërs saam wil gaan!
Gee ons u bystand in die stryd,
want mensehulp is nietigheid.
Deur Gód sal ons tot 'n kragdaad stap;
ons vyande sal Hy self vertrap.