Psalm 60
Vers 1
O God, hoe het U ons verstoot!
U grimmigheid was oor ons groot.
Herstel ons; laat die land herleef
wat U geskeur het en laat beef!
Herstel, genees sy breuke weer,
want alles wankel voor U, HEER!
U het ons 'n harde saak laat sien
en het swymeldrank ons toegedien.
Vers 2
U hef vir ons 'n vaandel hoog
waar ons kan heenvlug vir die boog –
'n reddingspaal het U geplant.
Verhoor ons, red ons deur u hand!
God het dit uit sy tempel al
laat klink met hoogste jubelskal:
"Ek sal Sigems stad my eie heet
en sal Sukkot as my erfdeel meet.
Vers 3
"Oor Gilead sal 'k heerser bly,
Manasse – dié is ook van My;
Éfraïm weer die aanval af,
en Juda is my veldheerstaf.
Van Moab sal 'k my waskom maak;
oor Edom, nog belus op wraak,
sal Ek wel in hoogheid triomfeer.
Juig, Filistéa, juig tot my eer!"
Vers 4
Wie bring my in 'n vaste stad?
Wie baan na Edoms land my pad?
U, HEER, wat ons nie by wil staan,
nie met ons leërs saam wil gaan!
Gee ons u bystand in die stryd,
want mensehulp is nietigheid.
Deur Gód sal ons tot 'n kragdaad stap;
ons vyande sal Hy self vertrap!