Psalm 79
Vers 1
Die heidene het gekom, 'n woeste hoop,
U erfdeel, HERE, geweldig neergeloop,
het U heiligdom se heiligheid geskend,
en Jerusalem tot puinhoop omgewend.
Aasvoëls is genooi
u knegtslyke verstrooi,
hulle vlees as aas ten prooi.
Om Jerusalemsfort,
bloed soos water gestort;
niemand wat begrawe word.
Vers 2
Vir al ons bure het ons geword 'n smaad,
'n spot en skimp van iedereen wat ons haat.
Hoe lank sal nog u gloed van toorn oor ons duur?
U ywer, HERE, nog oor ons brand soos vuur?
Stort die toorn van u mag
op wie u Naam nie ag,
konings wat hoon, u gesag;
want hul 't Jakob beleer
sy erfland opgeteer,
sy woning 's geen woning meer.
Vers 3
Gedenk aan die kwaad, deur ons gedaan, nie meer.
Ons euweldaad wil dit ons vergeef, o HEER!
En maak u volk wat nou verswak is, moet ly,
deur u genade weer van die skuldstraf vry.
Wil ons sondes uitvee,
nie om verdienste, nee;
om u Naam die eer te gee;
sodat daar oor ons lot,
die vyand nooit mag spot:
"Wie is die HEER? Waar 's hul God?"
Vers 4
Laat ons, laat hulle wat ons so swaar laat boet,
weet en aanskou die wraak oor vergote bloed.
en laat die gesug van wie in bande is,
tog voor U kom uit hulle gevangenis.
Die kind des doods – wil dar'm,
U oor hom wel erbarm,
deur die grootheid van u arm.
Vergeld ons bure's eer
– ja, sewevoudig weer –
waarmee U gesmaad is, HEER!
Vers 5
Dan sal u volk wees, u eie kudde weer,
wat U steeds wil lei en deur u staf regeer –
dan sal ons lofsing tot in die nageslag
van u vermoë en onverwinb're krag.