Psalm 119
Vers 1
Welgeluksalig wie in opregtheid
op die weg wandel van die HERE se wet
en dié wie Hom soek van ganser harte,
wie sy getuig'nis bewaar en daarop let.
Welgeluksalig wie in hul wandel
hulle-self van die onregspaaie belet,
Vers 2
maar eerder wil wandel op die weë
wat in die wet van God vir hulle reeds wag.
Dit is wel u wil dat ons u woorde
in getrouheid sal onderhou en betrag.
Kon ek dit maar, dan sou ek van harte.
O HERE, verleen U tog aan my die krag!
Vers 3
Ag, was dan tog my voete maar vaster,
sodat ek van daardie spoor nooit nie sal dwaal
in u wet wat is my voorgeteken,
en daarom geen skand' en skaamte oor my haal!
As ek, HERE, tog u wet wat billik,
reg en waar is, maar kan leer en nie sal faal,
Vers 4
dan sal ek U so van ganser harte
en in opregtheid eer – loof in lofgewaad.
Ja, ek sal U wel loof, want regverdig
is u regte en u woord en ook u daad.
Wil dan nimmer my geheel verlaat nie,
ek wat u insettinge nie wil verlaat.
Vers 5
Hoe sal dan in sy jeug die jongeling,
so gou deur die glans van ydelheid bekoor,
ooit suiwer kan wandel in sy weë?
Deur sy pad vas te hou na u woord se spoor!
Dis U wat ek soek van ganser harte.
HEER, hou U my hande vas, spreek tot my oor,
Vers 6
sodat ek van u spoor nie sal dwaal nie,
kwaad my nie verras en ek kan bly: u s'n.
Daarom sluit ek elkeen van u woorde
in my hart by dag en nag sorgvuldig in,
sodat ek nie teen U steeds sou sondig
en so U nie te minder dan sou bemin.
Vers 7
O HERE, my God, U is lofwaardig!
Leer dan tog vir my u insettinge wél.
Ja, met my lippe het ek die wysheid
van u verordeninge alom vertel.
In u getuig'nis smaak ek 'n vreugde
groter as by hom wat vind 'n rykdomswel
Vers 8
waarin daar is goed en aardse skatte
wat in hul waarde ondeurgrondelik is.
Met u bevel bly ek altyd besig,
terwyl dit steeds my soetste oorpeinsing is;
mag daar niks wees wat dié bron van vreugde
ooit uit my hart en gedagte sal kan wis.
Vers 9
Doen goed aan u kneg dat ek kan lewe,
want in my lewe wil ek u woord bewaar.
Laat my oë tog aanskou die wonders
wat in u wet en woord is geopenbaar.
Wat besit ek eintlik hier op aarde?
Niks wat aan my behoort, niks om op te gaar.
Vers 10
Maar één ding, daarna verlang en smag ek –
dis die rykdom van u woord wat vir my wag.
U dreig hulle wat, wild en vermetel,
as gevloektes, nie op u gebooie ag.
As hulle smaad, wend dan hulle smaadheid
ván my wat u getuienisse betrag.
Vers 11
Ook al beraadslag die vorste same
en versin hulle teen my, u kneg, die kwaad –
juig ek tog in sulke teënhede,
want u getuienisse skenk vreugd' en raad.
Ag, hoe kleef my siel nou aan die stof al!
Maak my lewend na u woord se skeppingsdaad –
Vers 12
U tog aan wie ek my sorg vertel het,
U 't my verhoor. Laat u wet by my insink!
Lei my dan altoos voort en steeds verder
om u bevele en wonders te oordink,
want my siel is deeglik droef-verslae
en drup weg wyl ek in kommernis versink.
Vers 13
Hou my voet weg van die leuenpaaie
en verleen aan my genadiglik u wet,
my wat verkies het die weg van waarheid
en wat U verordeninge gevolg het.
HERE, gee my hoop, en ek sal lewe,
troos, en wég is my gekwel! Van skande red!
Vers 14
Gaan my met 'n weldaad voor, dan volg ek,
verrium my hart dat ek u wet kan herkou.
HERE, leer my u wet, sodat ek dit
tot die einde toe kan bewaar en dit hou;
gee my verstand en gee my volharding,
dan bly ek met hart en siel daaraan getrou.
Vers 15
Laat my wandelpad wees u bevele,
want daar is niks wat my ooit só kan behaag.
Neig dan tog my hart daartoe, maar nimmer
dat ek na die wins van woeker heen sal jaag.
Wend my oë af van wat tog niks is,
maak my lewend in u weg wat nooit vervaag;
Vers 16
Vervul u verbond wat pas by u vrees
en maak dit waarheid aan u kneg, wie u voed!
Laat daar wel geen smaad my ooit oorval nie,
want dit vrees ek. Stort weer leew in my gemoed
uit u woord wat altyd reg en waar is,
en vir almal is 'n bron van alle goed.
Vers 17
Wees my goed, HERE, na u belofte,
sodat ek aan my smaders tot hulle spyt
reg sal kan antwoord op hulle smading
waarmee hul my Godsvertroue my verwyt.
Neem u woord van waarheid nie uit my mond,
waarop ek my hoop sal bou, nou en altyd.
Vers 18
Dan sal ek getuig van u bevele
wat ek wil onderhou en altyddeur hoor.
Dan ook sal ek wandel in die ruimte,
omdat ek sal wandel in u voet se spoor.
Ja, selfs voor konings spreek ek wel daarvan,
want u getuienis skaam ek my nooit oor.
Vers 19
Aan u gebooie, my hoogste vreugde,
en aan u wet is my liefde toegewy:
daaraan dink ek en ook daarna soek ek –
u insettinge, daarin verdiep ek my.
Gedenk dan nou en wees tog gedagtig
aan daardie woord gespreek tot u kneg, aan my –
Vers 20
die hoeksteen van hoop en heilsverwagting
wat my troos in ellend' en my laat gedy.
Of ek al vir trotse vermeteles
dwaas is en vir hulle is tot spotterny –
nogtans het ek wel steeds aan u woorde
trou gebly en stil my wandel toegewy.
Vers 21
As ek, o HEER, wég van beuselinge,
klaar aanskou het en gedink het in my gees
hoe u oordele op hierdie aarde
van vroeë dae af is oral gewees:
hoe die vromes tog wel toe bewaar is,
terwyl die bose neerstort in noodkreet hees –
Vers 22
dan voel ek dat my siel getroos word weer
en ten diepste binne bruis van vreugde soet.
As ek sien wetverlaters, Goddeloos,
dan kom daar skrik en onheil in my gemoed,
waarna 'n heilige vuur van ywer,
ja, van toorngloed, dit laat opbruis in my bloed.
Vers 23
Want u wet wat hulle reeds verwerp het
en u bevel, in hul agting waardeloos,
is waarlik die stof van my gesange,
en op my pelgrimspad is slegs dít my troos.
Aan u Naam, HERE, is ek gedagtig
in my soetste mymer, terwyl slapeloos,
Vers 24
as ek uitstrek en rus op my bedstee
en die nag die aard' oorsprei en daaruit bot.
Is dit dan 'n wonder? Nee, geen wonder,
want te doen na die bevel van u gebod
is en bly my hoogste lewensweelde
en op hierdie aard' ewig my hoogste lot.
Vers 25
HEER, U het my deel geword op aarde,
en u woord is vir my die ewige skat
wat U genade my toebetrou het
op hierdie vreemdelingskap se lange pad.
Ek het voor U my hart gans geheellik
in my smeking uitgestort – in trane nat.
Vers 26
Maak genadig my u guns deelagtig,
laat waar word u woord uit u belofte-pen.
Ek oordink nou elkeen van my weë
om my aan u wet en gebooie te wen;
of ek sal staan en of ek sal struikel,
kan ek nou al klaar daaruit helder beken.
Vers 27
Ja, ook of ek dood is, of ek lewe,
kan ek wel nou al klaar daaruit goed verstaan.
Daarom talm ek nie, maar haas my skrede
om weer terug in u voet se spoor te gaan.
Strikke span die bose Goddelose
voor my voetstap, om en om, tot by my aan;
Vers 28
maar u voetspoor, wat ek trou gevolg het,
laat my aan hul net ontkom, verby hul flank.
Midde-in die stille donker nagte
staan ek op met jubel en met lofgeklank
om U vir u wyse wet en regte
met my ganse hart, siel en verstand te dank.
Vers 29
Vriend is ek van al wat is u vriende,
en mét hulle is ek in u waarheid één;
leer my, HEER, wat met goedertierenheid
dring deur al die wydtes van die wêreld heen;
wat ook na die woord van u beloftes,
HERE, aan u kneg het wel gedaan met seen.
Vers 30
Gee aan my insig, gee aan my kennis –
'n hart om te verstaan dat ek aan U hoort.
Voor ek verdruk was, voor ek het gely,
het ek dwaalsiek, al maar op my eie voort
op die verkeerde paaie gewandel;
maar nou let ek op en onderhou u woord.
Vers 31
U is goed en U is ook goeddadig,
U is 'n fontein van alles wat is goed.
Leer my dan wat goed is en wat reg is,
u insettinge, uit goedheids-owervloed.
Opgeblase volk dig my toe leuens –
daarmee druk hulle my neer en laat my boet;
Vers 32
maar ek, ek voeg steeds van ganser harte,
my woord en wandel na u bevel en doel;
maar húlle hart, dié is onaandoenlik,
in 'n laag van vet, vas en toe, ingewoel,
sodat hulle die vreug nie kan voel nie
wat ek in u gebooie en wette voel.
Vers 33
Dat U my verdruk en my laat ly het,
was my tot voordeel en enkel goed vir my,
want dit is daardeur dat U my dieper
in u kennis en u weg het ingelei.
Daarom is dit vir my soveel beter
as dat die allerrykste skat my is by,
Vers 34
meer as al die goud en al die silwer
wat die wêreld sal kan hou in elke land.
Met u hande het U my geskape,
my toeberei deur u Goddelike hand –
ag, herskep my dan tog nou inwendig
en verlig U nou my verdorwe verstand.
Vers 35
Al u dienaars dié aanskou my lewe
en daarin is daar vir hulle siel 'n vreug
omdat mý siel wag op u beloftes
en so vrymoediglik hom daarin verheug.
HERE, al u vonnisse is suiwer,
maar onsuiwer was my weg en sonder deug;
Vers 36
dat U my daarom dan swaar verdruk het,
is trou en reg en daarom dra ek my juk.
Dog waar ek ook wel aan u beloftes
vashou en daarin my heil soek en geluk,
smeek en bid ek dat U, na u goedheid,
my, u kneg, wil troos ook nou in al my druk.
Vers 37
Laat dan wel op my u mededoë
neervloei en oor my kom soos 'n sagte dou,
dat ek in 'n regverdige lewe
kan verbly en dit in u vrees kan behou.
Beskaam en smaad trotsaards wat hardvogtig
my swaar druk in 'n loopgang vir my te nou,
Vers 38
net omdat ek hulle ore hinder,
wanneer ek oor u wet en gebod hou fees.
Laat húl eerder weer met my vergader
wat u Naam en getuig'nis van harte vrees,
dat ons, in en deur u woord verenig,
een gees en een gemeenskap weereens kan wees.
Vers 39
Laat my hart maar tog net wel opreg wees
voor u oog wat alles hier benede sien,
dan sal daar oor my geen skaamte kom nie
as ek U met oorgawe van harte dien.
Na u heil smag my siel met verlange,
op u woord wag ek totdat my hoop dit sien,
Vers 40
en my stem vra met smagtende oë:
Sal U my vertroos – my weer ent op u tak?
Want my liggaam wat is uitgemergel,
en wat is tot die laaste lid heel verswak,
is deeglik verkrimp al soos die leer is
van 'n gehawende swartberookte sak.
Vers 41
Nogtans sal ek wel steeds op U bly wag,
wat van al my sorge en my kommer weet –
wag ek op die uitkoms van u woorde
wat my hart tog nimmermeer sou kon vergeet.
Sal daar nie vir my 'n einde kom nie?
Waarom toef met straf oor hul wat soek my leed?
Vers 42
Spaar U dan nog my vyande wat my
neerdruk in die graf wat klaar gegrawe is?
Hulle wat na u wet nie lewe nie,
terwyl dit vir elkeen waar bly en gewis –
hulle wat my vervolg. O help my gou!
Die lewe wat daar nog in my bly en is,
Vers 43
het hul op aard' amper al vernietig;
maar – hoe kon ek, dit ten spyt, u wet laat vaar?
Maak my in u welbehae lewend,
dat 'k die getuig'nis van u mond kan bewaar.
O HERE, u woord is onbeweeglik,
die eind' van u waarheid is onbereikbaar,
Vers 44
soos die sterre wat daarbo bly vonkel
aan die hoë firmament – u hemelryk.
Met die kom en gaan van mensgeslagte
sal u troue verbond ons nimmer beswyk;
soos die aarde is dit vas bevestig
wat na u bevel nie van sy grondslag wyk.
Vers 45
Aarde en hemel, ja, alle dinge –
niks is daar wat ooit u verordening breek,
want alles en almal is u knegte
en is stip aan U gehoorsaam as U spreek.
Was u wet nie my verlustiging nie,
dan het ek versmag en sou my hart word week;
Vers 46
maar nou dat dit in my krag gewek het,
dink ek daaraan dag en nag – soek ek u eer.
Net aan U behoort ek al my dae;
help en verlos my, u dienaar en u kneg!
Soek tog my heil, want ek soek my lewe
in die waarheid van u bevele en leer.
Vers 47
Die Goddelose wil my hier ombring
en hulle lê en loer en hou saam die wag,
maar ek sal steeds let op hoë dinge,
ek sal gee op u getuienisse ag.
Nimmer en ook nêrens het my oë
op hierdie aardse wêreld ooit iets kon trag
Vers 48
wat vas en bestendig voort kan duur nie
en sy wese kan behou met gang van tyd.
Alles wat volmaak skyn, het 'n einde
en moet, met alles wat hier bestaan, verslyt;
dit is net u wet, in duur onendig,
wat volmaak sal bly en ook eindeloos wyd.
Vers 49
Waarom is dit dan dat ek u wette
met hart en siel al my liefde waardig keur,
sodat ek in my diepe bepeinsing
met slegs dit alleen besig is altyddeur?
Omdat u gebod my wys gemaak het,
wyser as my vyand en sy adviseur,
Vers 50
wyser as my leraars, as die grysaards.
Want u bevele is my 'n kennisskat!
Ek het weggewyk, deur u genade,
en my voet weerhou van elke slegte pad;
maar ek sal nooit nie wyk van u regte,
want u woord en leer is my 'n wysheidskat.
Vers 51
Soet soos heuning is vir my u woorde,
nee, soeter as heuning, want hul gee my raad;
daarom is dit dat ek so van harte
al die valse paaie van die leuen haat.
U woord is vir my 'n helder fakkel
wat met sy ligglans van my verdryf wat skaad,
Vers 52
en wat voor my voet die duisternisse
weg verja van die pad waarop ek moet bly.
Ek het gesweer en deur u ontferming
het ek dit bevestig, naamlik dat ek my,
terwyl van 'n wêreldnag omgewe,
deur dié ligglans ewig wil en sal laat lei.
Vers 53
Troos my nou, HERE, met u beloftes;
teëspoede druk my baie diep terneer.
Laat my offerandes – my gebede –
U behaaglik wees. Leer my u wet, o HEER!
Of hier my lewe al in gevaar is,
of dood al bedreig sonder dat iemand keer –
Vers 54
nogtans kan 'k u wette nie vergeet nie,
want so neig my hart om steeds daarop te let.
Of ek wel amper al vasgevang is
in Goddeloses se slim-verborge net –
midde-in bange gevaarlikhede
nogtans dwaal ek nog steeds nie weg van u wet.
Vers 55
U getuig'nis is my vreug, my erfdeel.
Dit is waarmee ek nooit nie meer sonder kan;
alleen daaraan kleef ek deur u goedheid,
en ewig sal my voet nie wyk nie daarvan.
Vir u wette is my hart vol liefde,
maar enkel haat vir die twyfelende man.
Vers 56
U is my skild en my plek van skuiling
en u woord die toeverlaat van my wandel.
Weg van my, o kwade boosgeaardes,
want net God se gebod maak my onrus stil,
omdat ek in my bedryf en handel
my só laat skik alleen na my God se wil.
Vers 57
Stel u woord my tot 'n vaste steunsel,
sodat ek kan bly lewe, en nie sal loop
tot my eie spot en tot my skande,
na 'n ongewisse wankelende hoop.
Sterk my en red my en laat die liefde
tot u wet deur u wil my die hart in loop;
Vers 58
want U bring oor hul almal veragting
wat op bedrog steun en wat van u weg dwaal.
U skif die bose en Goddelose
van die aard' af, soos ons skuim skif van metaal,
en verwerp hulle dan; daarom bid ek
dat liefde vir u gebod in my mag daal.
Vers 59
As ek dink aan u streng regverdigheid,
dan meng daar in my liefde en vrees deureen;
en ek voel hoedat daar bange angste
verskrik sidder deur my ledemate heen.
Wil my, wat u wet en woord betrag het,
nimmer prysgee as roofwins aan wie gemeen
Vers 60
en vermetel is. Staan borg vir u kneg,
ten goede, dat ek op u belofte bou.
Hoe verlang my oë na die heilgoed
wat my toewink in u reg en in u trou!
Wees aan my goed en maak my verstandig,
sodat ek u bevel en wet steeds kan hou.
Vers 61
HERE, hoe lank nog het U met hulle
wat u wet verbreek en dit verag, geduld?
Kom dan eindelik en doen vergelding,
bring oor hul die sware regverdige skuld!
Maar vir my is u wet en gebooie
duisendvoud reiner as edelprag verguld,
Vers 62
fyner, meer gelouterd en gekeurmerk
as allerfynste goud en van groter baat.
Daarom hou ek elkeen die bevele
aangaande als, altyd waar en reg; ek haat
alle vals en dowwe leuenpaaie
wat die regte pad van u gebod verlaat.
Vers 63
U getuienis is my 'n wonder,
wanneer ek die diepte daarvan wil deurgrond;
gaan u woorde oop, dan skiet dit glanse
skoner as ook selfs die helder môrestond.
U woord is 'n lig wat klare kennis
aan eenvoudiges ontdek – 'n wysheidsfont;
Vers 64
ja, dit is die asem van die lewe
wat ek diep na binne trek – dit wys u weg.
Wend U dan tog nie hier weg van my nie,
wees my genadig en gunstig na die reg
en liefde wat in verbondsgeheim'nis
aan u eie volk is ewig toegeseg.
Vers 65
Laat ongeregtigheid oor my nie heers.
Hou my voetstappe vas in u woord se spoor.
Red my van die wat my wil onderdruk;
gaan my met die heillig van u aanskyn voor!
Trane kom daar vir my in die oë;
dit vloei soos strome water my wange oor,
Vers 66
omdat hulle wat is wetsveragters,
hulle voetstap ver hou van u wet se weg.
HERE, my God, net U is regverdig
en u verordeninge is altyd reg;
u getuienis is trou en billik
en u waarheid staan vir ewig waar en heg.
Vers 67
Daarom brand in my verwoed 'n ywer,
'n ywer wat my hart stuk vir stuk verteer,
as ek sien hoedat my teëstanders
U nie na die waarheid van u woorde eer.
U woord, dit is deur en deur gelouterd
en is deur my, u kneg, geliefd meer en meer.
Vers 68
Alhoewel ek klein en ook verag is,
bly ek altyd u bevele verkleefd aan.
U geregtigheid bly nou en ewig
en sal altyd onveranderlik bestaan,
en so ook is u waarheid 'n waarheid
wat wel nimmermeer sal wankel of vergaan.
Vers 69
Selfs wanneer ek wandel in benoudheid,
en wanneer ek in diepe angs het geraak,
is en bly u woord die één en alles
waar my hart hom in bevredig en vermaak.
Vir ewig sal u geregtighede
vloei uit u getuienis waarop ek waak.
Vers 70
Leer my dan daaruit om só te lewe
soos ware lewe wat verstandigheid hou.
Tot U roep ek; o HERE, verhoor my,
en verlos my, maak my, in u genaad, trou,
sodat ek wel u getuienisse,
as insetting, heel my lewe lank kan hou.
Vers 71
Op u woord steun steeds al my verwagting:
by die môreskemering se eerste lig
is my oë en albei my hande
saam met my stem tot U, my helper, gerig.
Diep nog in die stilte van die nagte
as die vaak vir ander word 'n swaar gewig,
Vers 72
bring ek vir my u woorde te binne
en bepeins dit oor tot dit my hart indring.
Hoor genadig HEER en wek my lewe,
hoor my stem na u heilige ordening;
want hulle, die snode wetsveragters,
kom met skanddaadslus al nader aangedring.
Vers 73
Hul kom! Kom U, o HERE, ook nader!
Want u gebod is waar en ek weet lankal
uit wat U aan my voorheen getuig het:
ewig onveranderd staan u waarheid pal.
Sien my dan tog aan in my ellende,
'k voel my aan u wet verkleef geheel en al;
Vers 74
red my en wil my regsaak verdedig;
laat my na u belofte leef, waar en eg.
Ver 's u weldaad van die Goddelose,
want dit is hulle wat swerf van U af weg;
maar oor my bly altyd u ontferming:
o HERE, maak my lewend volgens u reg.
Vers 75
My vervolgers, dié is vals en vinnig,
en hulle getal vermeerder steeds meer nou;
maar dis alleen u getuienisse
wat my voete dag vir dag steeds staande hou.
'k Het hulle gesien – die trouelose –
en gesmaak hoe hulle U smaad sonder rou,
Vers 76
maar dit wek in my 'n sure walging
dat hul ver van u woord is en U nie vrees.
Merk tog, o HEER, hoedat u bevele
die soetste spys is van my verstand en gees,
en maak my lewend na al u woorde
wat vir ewig waar en regverdig sal wees.
Vers 77
Vorste haat en soek my sonder oorsaak,
op die pad waarop ek gaan vervolg hul my,
maar ek sal steeds u Woord alleenlik vrees,
want dit is daar wat ek steeds is vrolik by.
Ja, U beloftes, dié gee my vreugde
soos oor die groot buit wat 'n oorwinnaar kry,
Vers 78
wanneer hy tel ryke skat en weelde
wat hy van sy togte t'rugbring na die stryd.
Leuens haat ek – het daar 'n afsku van;
in u wette is my lus en liefd' altyd:
sewe maal die ganse dag deur sing ek
lof oor u ordening se geregtigheid.
Vers 79
Groot vrede is daar, ja, enkel vrede,
en dit daal diep in die binneste gemoed
van dié wie u wet en bevel liefhet.
Na súlkes kom vrede sonder teëspoed.
O HEER, tot U loop ek, op u hoop ek;
ek sal ag gee op u wet wat my behoed;
Vers 80
my siel hou wat U aan my getuig het –
is vol van liefde vir dit wat u woord heet.
'k Voeg my stil-tevree na u bevele
– mag ek maar u getuienis nooit vergeet!
Dit weet U wel: elkeen van my weë,
is 'n ope boek voor U wat alles weet.
Vers 81
O HEER, mag my klag maar tot U nader,
mag dit u aangesig bereik deur die lug!
Maak my, na u woord, dan tog verstandig
en red my na u belofte as ek sug!
Van my lippe stroom daar uit lofsange;
U maak my wys en teen my vyand gedug:
Vers 82
want al u gebooie is regverdig –
my tong sal dit prys en steeds u woord bewaar.
Help my deur u hand! U wet verkies ek.
HEER, ag, hoe verlang, hoe sug ek diep en swaar
na daardie heil wat U eens beloof het,
na u kennis wat vir my is wonderklaar!
Vers 83
Laat my siel lewe dat dit U kan loof!
Laat niks my die heil van u genaad ontroof!
Laat u regte oordeel my tot hulp wees!
Laat my siel lewe om U altyd te loof!
Ek is verdwaal, soos 'n skaap verlore,
en is deur die wildernis van U beroof.
Vers 84
Tot U alleen, my Herder, sal ek bid
dat U my tog wil kom haal, weer van my weet.
Soek my, bring my weer, u kneg en dienaar
wat in al sy sielerou en harteleed,
en ook steeds in al sy teënhede,
u gebooie en u woord nooit nie vergeet.