Psalm 63
Vers 1
My God, wat tog my lewe is,
hoe smag my hart as ek U moet mis!
Ek soek U, HERE, terwyl ek kwyn
in sielsverlatenheid en pyn.
Ek smag net soos alles hier om my
waar 'k swerf in wilde woesteny,
'n dor en uitgedroogde land
waarop dors, die son se vlamme brand.
Vers 2
Ek het voorheen, in stille wag,
U in u heiligdom gebetrag,
waar U in glans, aanbiddelik skoon,
en alvermoënd sit ten troon.
Want bo ons lewe in kommernis,
wat sonder U geen lewe is,
skat ek u grote goedheid, HEER,
waarvoor my mond U dankende eer.
Vers 3
Ek wil U prys my lewe lank,
só my hande ophef en U dank.
Want, asof met vettigheid, sal weer
my siel versadig word, o HEER!
My mond sal jubelende U noem,
my lippe hoog u weldaad roem
wanneer die aard' in nag versink –
dan sal ek peinsende aan U dink.
Vers 4
U was, o God, 'n hulp vir my.
U het u vleu'ls oor my uitgesprei
om met u beskerming my te dek
en jubels in my hart te wek.
O God, so nóú met my lot begaan,
hoe kleef my siel U agteraan!
Vertrouensvol op U geleun,
voel ek hoe u hand my ondersteun.
Vers 5
Maar wie my op die pad laat swerf
en rusteloos soek na my verderf –
hulle stort in hul verdelgingsdrang
self in die kuil van ondergang;
en, weggedryf uit 'n vaste stee,
word hul die slagswaard oorgegee,
om op die velde neergestort,
vir wilde diere 'n prooi te word.
Vers 6
Maar ek is in die HERE bly,
saam met almal wat sy Naam bely;
ons roem, omdat Hy die boosheid stuit
en streng die leuenmonde sluit.