Psalm 144
Vers 1
Geloofd sy God wat my in wankele' tyd
'n rotssteen is en my aangord tot die stryd;
wat tot die kryg my hande toeberei,
so goed is en 'n vestingwerk vir my;
wat my die skansmuur tot redding wil verstrek,
by wie ek skuil, daar my met sy skild oordek;
wat in die stryd my altyd trou bewaak
en nou my volk aan my gehoorsaam maak.
Vers 2
Wat is die mens, o HEER; wat is sy geslag?
En wat is hy dat U op hom sou gee ag?
Soos skaduwees verswind sy lewenstyd:
en sy bestaan is enkel ydelheid.
Buig, HEER, die hoë hemel neer en daal af!
Strek uit u hand en tref berge met u straf,
dat rook kan opstyg uit hul ingewand,
en slinger neer van bo u hemelbrand!
Vers 3
Verwar en verstrooi my harde teenparty,
stuur uit u pyle en laat dié vir my stry.
Strek uit u hand van Hoë hemel neer
en hef my hoof uit wilde waters, HEER!
Verlos my uit 'n see van ramp en van nood,
want vreemdes dreig my met 'n gewisse dood.
Hul mond spreek leuens en hul regterhand
doen by hul eed dié leuenwoord gestand.
Vers 4
O God, ek wil opnuut my dank aan U bring
en by die harp my psalmgesang tot U sing,
U wat aan Dawid die oorwinning gee
oor reuse-swaard, vir sy verderf gesmee.
Verlos my uit 'n see van ramp en van nood,
want vreemdes dreig my met 'n gewisse dood.
Hul mond spreek leuens en hul regterhand
doen by hul eed dié leuenwoord gestand.
Vers 5
Sodat ons seuns soos plante ons sal verheug:
hoog opgekweek en sterk sal wees in hul jeug;
ons dogters soos pilare, na die eis
gebeitel van 'n skone rotspaleis;
ons skure vol van voorraad wees ongeteld,
ons kleinvee talloos huppelend oor die veld,
ons beeste swaar gelaai; geen bres alom,
waar krygsgeskreeu ons stand kan binnekom.
Vers 6
Welgeluksalig – hef ek my slotsang aan –
welgeluksalig die volk wie 't só mag gaan!
Welsalig hul wat by dié groot genot
van volle heil, die HEER het tot hul God!