Psalm 104
Vers 1
Waak op, o my siel, en loof nou die HEER!
HERE, my God, U is uitnemend seer
verhewe – ja, baie groot in majesteit,
want dis U wat bekleed is met heerlikheid:
u mantel is van lig en sonneglans,
en u troongewelf is die bloue trans;
waters wys die solderwerk van u paleis –
dit is bo in die wolke, dis hooggehys.
Vers 2
Ons sien U sweef, daar op die wolkwa aan,
of dat U wandel op die wind, u baan!
U maak 'n boodskapper van die windgeluid
en, asof dienaars, vlieg u vuurblitse uit.
Die aarde 't Hy gegrond deur sy bevel,
en op sy fondamente vasgestel.
Die watervloed in sy storm en sy gewoel,
wat oor die hoogste berge het heengespoel,
Vers 3
het U, soos in een enkel vegtersvlaag,
deur donderknal voor U heen uitgejaag,
– so die dal laat sak en so die berg laat rys –
u vinger het elk van dié sy plek gewys.
Ook vir die see het U 'n grens gemerk,
en het sy woede daarin ingeperk.
In holtes stuur U die sterk fonteine uit,
tussen die berge ruis dit van stroomgeluid.
Vers 4
Daar lawe die dier van die veld sy bors
en die wilde-esel breek daar sy dors.
Dit is daar waar woon die blye voëlkoor
wat tussen die takke uit die stem laat hoor.
Uit die boonste kamers ruis Gods reën,
die berge en aarde drink 'n seën;
en die grasspruit skiet daar vir die veedier uit,
en vir die mens ontluik daar die voedselkruid:
Vers 5
die broodkoring wat hom sy kragte voed,
die wyndruifstok wat hom sy smart versoet
en die olie wat die mens se aangesig,
wat is deur leed verdof, nuut tot vreug verlig.
Die HERE gee die reën as sy hand
die wilde bome en die seders plant,
wat skaduwyd hulle lommer opevou
en die voëls nooi om daar hul nes te bou.
Vers 6
Die sipresboom, 'n slanke woudpilaar,
is huis en woning vir die ooievaar;
bo-op die berg en die rots se hoogste top –
daar skuil en spring die das en die steenbok op.
Gods vaste maat van tye is die maan;
en ook die son weet as hy skuil moet gaan.
Dan word dit nag op Gods woord en sy besluit,
en daarna trek die roofdier op rooftog uit.
Vers 7
Die gebrul wat oor die velde heen rys,
is leeugeroep tot God om hulle spys.
Maar sal die son sy loop deur die dag begin,
dan sluip hulle weer hulle leeuskuilplek in.
Hierna word die mens deur die môrelig
gewek en gewink tot sy arbeidsplig
totdat daar oplaas die skemer oor hom val.
Hoe eindeloos is u werke in getal,
Vers 8
en hoe wys het U hulle geformeer,
en hoe vul hulle saam die aarde, HEER!
Dáár is die see, na alle kante toe wyd;
en dit wemel in verre eindeloosheid.
Dit is dáár oor die wye waterbaan
wat ons die blanke seile heen sien gaan;
daarbinne laat U die Leviátan speel,
sodat hy in die weidse vreugde kan deel.
Vers 9
Alles wat leef in water en op land,
dié verwag hulle spyse uit u hand.
As U dit ontsluit, dan word hulle verkwik;
as U dit toehou, dan word hulle verskrik;
as U hulle asem wegneem, dan keer
hulle tot stof en as, en is nie meer.
Maar wanneer u Gees weer oor hulle uitsweef,
dan leef hulle, en al die aarde herleef.
Vers 10
Laat glorie wat is sonder maat of perk
die HEER tot blydskap strek uit al sy werk!
Hy, wat net aankyk en – niks op aard' hou stand;
en as Hy slaan, dan staan berge aan die brand.
Ek wil terwyl ek nog die lig geniet,
God se grootheid besing in psalm en lied.
En die diepste oorpeinsinge van my gees –
mag dit Hom wel altyd welgevallig wees!
Vers 11
Almal wie die HERE se lof mishaag,
laat hulle soos stof voor die wind vervaag!
My siel, wat ewig uitsing tot God se eer –
sing, bly en onvermoeid, lofpsalms tot die HEER!