Psalm 45
Vers 1
My hart is ontroer deur skone mymering,
en sal daarom lieflik van 'n Koning sing.
My tong is deur digvuur aangedrywe,
en is soos 'n pen wat vaardig skrywe.
U is skoon! Geen skoon bestaan wat daarby haal.
Daar is bevallighede van trek en taal
oor en op u lippe heen uitgestort –
U wat ewig deur God geseën word.
Vers 2
Gord aan heup u swaard en wapens tot die stryd,
o Held, u majesteit en u heerlikheid!
Ry dan oorwinnend aan na die geveg
vir waarheid, ootmoed, en die hoogste reg.
En laat u regterhand wat sal triomfeer,
aan U vreeslik' en gedugte dinge leer.
U pyle is skerp en sal volke tref
wat teen die Koning vyandig verhef.
Vers 3
U troon hou vir ewig stand in storm en stryd,
die septer van u ryk is regverdigheid.
U het die geregtigheid lief, maar haat
die onreg ook saam met die onregsdaad.
U die Koning, van so skoon 'n ryksgebied,
is deur u God met die vreugdesalf oorgiet.
O God, u God, dié het gemaak U groot
bo elke vors en ieder troongenoot.
Vers 4
Al u klere is mirre en alewee,
terwyl balsemgeur verby sweef met U mee;
uit u ivoorpaleis en -koningshuis
kom daar voort wonderskone snaargeruis.
Daar is dogters van konings onder die ry
van die staatsdogters wat U saam begelei;
die koningin hou U regterhand stand
in die fynste goud uit die Ofirland.
Vers 5
O dogter, wat nou die bruidsgeroep dan hoor,
o skoonste, kyk en sien, luister, neig jou oor!
Vergeet jou volk, jou vader, eie vlees,
dat jy die bruid van die Koning kan wees.
Wanneer dan die Koning, wat groot is van mag,
jou begeer en ook op jou skoonheid gee ag,
o weier nie, maar buig dan voor Hom neer,
want Hy is jou Koning en eewg jou Heer.
Vers 6
Uit Tirus sal hulle na jou nader kom –
en ook die rykes, sal geskenke bring, om
met skatte van die fyn en fynste kuns
vir hul te werf die sonskyn van jou guns.
Die dogter van die Koning, dié is nou gans,
geheel verheerlik in haar skoonheid en glans.
En oor haar kleed is 'n weerskyn wat sweef:
dit is met goue draad ryklik deurweef.
Vers 7
In 'n veelkleurige kleed, daarin word sy,
hierdie skone bruid, na haar Vors toe gelei;
met 'n stoet van jong maagde agteraan
wat saam met haar na die Koning toe gaan.
Hul word met vreugde en gejuig voortgelei,
omdat almal is in hulle Koning bly.
Ieder mag intree – hoogste gunsbewys! –
in daardie koninklike pragpaleis.
Vers 8
Wanneer u vaders aan die eind' heen moet gaan,
sal in hulle plek u eie nakroos staan.
U vestig hulle met 'n vaste hand
as magtig' vorste in die ganse land.
Ek wil en sal, o Vors, aan U eer bewys,
u grote Naam déúr al die geslagte prys.
Daarom sal die volke, in U verblyd,
U hulde bring vir ewig en altyd.