Psalm 37
Vers 1
Vertoorn jou oor die bose kwaaddoeners nooit:
hulle sal verkwyn, hulle raak verstrooid
soos gras wat gou verdor en wat gou vergaan,
en soos spruitjies wat maar net kort bly staan.
Vertrou op die HERE met die hart en hand
in troue diens aan jou God toeverpand.
Vers 2
En verlustig jou in die HERE altyd
wat mildelik gee en jou nooit verwyt.
Laat ydele sorg jou nimmermeer verkwel,
wil eerder aan die HEER jou sorg vertel:
die HERE sal jou reg, soos die middagglans,
laat skitter aan 'n helder hoë trans.
Vers 3
Selfs al bruis dit woes in jou omdat die lis
en leuen hier en nou voorspoedig is –
swyg en wees voor die HERE, gerus en stil,
dat jou wil verenig is met sý wil.
Wag altyd op die HERE in lydsaamheid,
wees traag tot toorn en weet: Hy ken sy tyd.
Vers 4
Kwaaddoeners stort terneer in hulle verderf;
maar wie die HEER verwag, sal alles erf.
En nog net 'n klein rukkie, en kyk dan weer –
en sien die Goddelose 's daar nie meer!
Sagmoediges daarenteen sal alles erf
en vrede sonder einde wel verwerf.
Vers 5
Vergramd bedink die Goddelose 'n lis
teen dié wie voor God wel regverdig is.
Maar die HERE belag sulke domme waan:
Hy weet die dag van straf kom nader aan.
Die Goddelose kom – hulle nyd gewek,
hul boog is gespan, hul swaard is getrek.
Vers 6
Die arme, wat nou so ellendig is al,
sal voor hulle wapens terneer moet val!
Dit is hom wat opreg is, en klein van krag,
en swak tot verweer, wat hulle wil slag.
Maar o wee, hulle swaard sal húlle deursteek,
hulle boë sal die HERE verbreek.
Vers 7
Selfs 'n weinig is vir die wat vroom is meer
as die skatte waar die bose op teer:
die HERE breek die arms waarop hulle leun,
maar regverdiges sal Hy ondersteun
en hulle met welgevalle gadeslaan,
hulle erfdeel nooit hulle laat ontgaan;
Vers 8
ook in die dag van honger en hongersnood
versadig die HERE sy volk met brood.
Maar Goddeloses sal omkom en vergaan
soos die gras wat op die weivelde staan;
die HERE se vyande, hoe skoon van skyn,
sal net soos 'n rookwolk eensklaps verdwyn.
Vers 9
Die Goddelose leen en – het steeds te min,
God se volk deel uit en – daar is gewin;
sy geseendes sal alles erf en hier bloei;
maar wie Hy vervloek, dié word uitgeroei.
Die HERE maak 'n man se stap vas en heg,
wanneer Hy behae het in sy weg;
Vers 10
en as hy val, dan bied die HERE se hand
hom seker hulp en wisse onderstand.
Ek was wel 'n aanskouer van baie kwaad,
maar nooit gesien dat God sy volk verlaat,
dat hulle geslag, hoeseer ookal geplaag,
ooit nodig het om bedelbrood te knaag.
Vers 11
Veeleer leen hy uit en skenk genadebrood
aan wie al reeds wankel in hulle nood.
Sy nageslag strooi ver en wyd om hul heen,
en op hulle spoor ontspruit daar 'n seen.
Wyk af van die paaie wat die HEER verlaat.
Die HERE bemin slegs die regte daad.
Vers 12
En in 'n erfdeel, wat is só wonderskoon,
daar sal jy ewig voor die HERE woon.
Die HERE sal altyd vir sy gunsgenoot
'n beskutting wees selfs tot in die dood.
Die sondaarsnageslag hou voor Hom nie stand;
terwyl regverdiges beërf die land.
Vers 13
Hulle mond is vir ons soos 'n wysheids-wel,
en reg is dit wat hulle tong vertel.
Die wet van hul God is in hul hart geplant,
en deur sy krag hou hulle ewig stand.
En wanneer die Goddelose op hul loer,
sal die HERE hul aan die strik ontvoer.
Vers 14
Die HERE voer hulle reg, deur sy besluit,
voor sy wyse gereg, regverdig uit.
Gaan voort op sy weg met onvertraagde stap
en hoop op die HEER in vreemdelingskap,
tot Hy jou verhoog, die aard' jou erfdeel word,
die Goddelose voor jou neer moet stort.
Vers 15
Die Goddelose sal tog weldra vergaan,
al sien ek hom nou daar as pragboom staan;
nog net 'n korte wyle, dan soek ek weer,
maar hy staan op sy eie plek nie meer.
Let op na die vrome en hom wat opreg
met God verkeer in sy woord en sy weg;
Vers 16
en merk op na die man wat God hier al vrees:
dat sy lewenseinde sal vrede wees.
Maar die oortreders word tesame verdelg,
en van hulle vergaan èn stam èn telg.
Die HEER is 'n helper wat groot is van mag
vir die regverdige en sy geslag.
Vers 17
Hy 's waarlik 'n toevlug in die tyd van nood,
Hy is ewig 'n hulp oneindig groot.
Die HERE maak hul van hul vyande vry,
hulle skuil by Hom, Hy is hul naby