Psalm 78
Vers 1
Merk op, my volk wat nou my stem wat roep hoor,
met 'n ope hart en toegeneë oor!
Met spreuke wat wys is wil ek u vermaan,
wat waarheid is van vroegste tye af aan;
verborge goud wat net op koest'ring wag,
met stof bestrooi, haal ek weer voor die dag.
Vers 2
'n Wysheidswoord wat vloei uit 'n diepe wel
– ons vaders het dit ons tog voorheen vertel –
sal ons nie verberg, en aan die stamverband
sal ons wel verhaal die wonders van Gods hand;
sodat ons kinders trou dit ná kan speur,
sy dade kan verkondig altyddeur.
Vers 3
Die HEER het aan Jakob gegee sy bevel,
en sy woord en wet gegee aan Israel;
as 'n vaandelteken om, met erns en trou,
dit gedurigdeur in oog en hart te hou;
'n teken om die nakroos toe te wink,
'n taal om diep hul in die hart te sink;
Vers 4
sodat hulle dit húl kinders kan vertel,
om hul vertroue alleen op God te stel –
nie wederstrewig nie in hul wandel weer,
nie koppig nie, soos hul vaders was weleer:
'n volk onvas van hart, ontrou van gees,
was hul nie trou teenoor hul God gewees.
Vers 5
Ja, Efraïm, die heldestam van weleer,
het weggevlug – hulle was geen helde meer!
Die verbond van God het hulle nie betrag,
maar het, weieragtig, dit gering geag,
Gods dade, met geen maatstaf afgemeet,
sy wonders het hul troueloos vergeet.
Vers 6
In Soans veld en in gans Egipteland,
het hulle gesien die wonders van sy hand;
en in die see, waardeur hulle pad sou gaan,
het Hy die waters soos walle hoog laat staan.
Hy was oordag met digte wonderwolk,
en snags met vuur die leidsman van sy volk.
Vers 7
Uit 'n barre rots, gehoorsaam as Hy spreek,
het Hy vir hulle die waters uit laat breek,
wat soos watervloed gespoel het oor die sand.
Nogtans was hulle weerspannig teen sy hand,
'n spys het hulle na hul hart begeer,
hul 't God versoek, opnuut gemurmureer:
Vers 8
"Sou God vir ons hier ooit 'n tafel kan sprei?
Kyk, Hy het geslaan, die rots in twee laat skei –
maar in hierdie land van dors so dubbeldood,
hoe verskaf Hy vir sy volk hier vleis en brood?"
Toe 't God gehoor, 'n vuur is aangesteek,
en gramskap het teen Jakob uitgebreek.
Vers 9
Hy het beveel, en wolke het aangewaai,
die hemeldeure het ylings oopgeswaai:
geheimenisvol het manna neergestort,
en hemelkoring het hulle brood geword.
Dié wonderbrood, hul volop toegemeet,
dié eng'lespys het hul op pad geëet.
Vers 10
Daarna volg 'n windstorm deur die hemel heen!
En Hy het vleis soos stof op hulle laat reen.
'n Kwartelswerm, 'n oneindige getal,
het binne-in hulle laers neergeval.
God het gegee, in oorvloed ongemeet;
die volk het tot versadiging geëet.
Vers 11
Hulle het geëet – die spys nog in hul mond –
toe het God se toorn teen hul ontvlam terstond.
'n Slagting! Uit hulle laer het die blom
van Israels manskap smaadlik omgekom.
Tog het hul in hul sondes nog volhard,
in ongeloof aan God se mag verward.
Vers 12
So het die HERE hul dae weg laat slyt
in skrik en smart, in moeite en nietigheid.
En as die dood hulle tent oorval, dan vlug
hul soekend en sugtend na hul God terug,
gedagtig dat hul rotssteen, trou en vas,
die Allerhoogste, hulle redder was.
Vers 13
Dit was vleiery. In sy verbond en leer
was hulle nie opreg voor God, hulle HEER.
Nogtans was Hy steeds oneindig van geduld,
barmhartig was Hy, 'n delger van die skuld.
Hoe dikwels wend Hy weer sy gramskap af
en wek nie al sy toorn tot strenge straf!
Vers 14
Hy het gedenk waarvan hulle was gemaak;
hoe lig hulle stof weer tot die aarde raak;
hoe gou dat hulle net soos 'n wind verdwyn,
en, eenmaal eers weg, nie wederom verskyn.
Hoe wederstrewig was hul teen die HEER!
Hoe griewend was hul ondank keer op keer!
Vers 15
Hoe menigmaal moes daar in die woeste land
die heilige God in heil'ge toorn ontbrand!
Dit was altyd weer: Gods ongemete mag
het hulle gemeet na swakke mensekrag;
hul 't nie gedenk hoe in hul slawetyd
die blyk gesien is van sy Godd'likheid.
Vers 16
Dit was wondertyd in Isr'els groot weleer!
Egipte se stroom het Hy in bloed verkeer.
Hy het die kwelgedierte in donker uur
– die kikvors en steekvlieg – in die land gestuur;
hul veldgewas, die spys van mens en vee,
het Hy aan rusp' en sprinkaan oorgegee.
Vers 17
Hul wingerdstok het Hy deur hael laat sterf,
hulle vyeboom deur koue laat verderf,
en oor hulle vee het Hy die bliksemskig,
met 'n haelbui, verwoestend aan laat lig.
'n Gloed van toorn en woede 't Hy gestuur
en onheilsbodes in benoudheids-uur
Vers 18
Hy het vir sy grimmigheid 'n pad gebaan;
hulle nie gered, deur pes hul laat vergaan;
en al die eerstelinge van hulle krag
het Hy laat sterf in die donker onheilsnag.
Maar Hy 't sy volk soos skape uit laat trek,
die see het gou hul vyand gans oordek
Vers 19
Hy het hul laat uittrek na 'n bergland skoon,
om in die tente van nasies in te woon;
die volke het Hy verdryf deur hoë hand
en hulle laat erf die wonderskone land.
Maar dit – en meer – voorheen so klaar geweet,
het nou sy volk, as ongeskied, vergeet.
Vers 20
Gelyk voorheen, was hulle afvallig weer:
dit was Godverlating en gemurmureer.
Die verbond van God het hulle nie gehou,
en soos hulle vaders was hul ook ontrou –
net soos 'n boog, wat tot verweer gehef,
bedrieglik swik en dan geen doel kan tref.
Vers 21
Hulle het gebou die hoogtes van die land,
en vuur van God se ywer het toe ontbrand.
Die heilige plek waar Hy by hul wou woon,
het Hy verlaat; en die ark van ouds sy troon,
sy sterkte, het in ballingskap gegaan,
sy heerlikheid wég uit hul land vandaan.
Vers 22
Hulle het 'n prooi van vyandswaard geword,
die HEER se toorn is oor hulle uitgestort.
Hul jongmanne het die oorlogsvuur verteer,
hul maagde is deur 'n bruidslied nie geëer.
Selfs priesterbloed verf deur die mantel heen,
en by hul graf – geen weduwees wat ween.
Vers 23
Net soos een wat uit sy sluimer wakker raak,
en net soos 'n held wat uit sy wyn ontwaak –
so het die HERE, tot kragdaad aangegord,
in tyd van nood vir sy volk 'n held geword.
Die vyand, ylings op die vlug geslaan,
het Hy 'n eewge smaadheid aangedaan.
Vers 24
Maar Josef se stam was nie sy woning meer;
dis Juda se stam wat opklim tot die eer,
en Sion se berg waar Hy teen hemelblou,
sy heiligdom teen die hemelhoogtes bou,
waar Hy omlaag, in rotsblok ingepas,
die grondslag lê, vir ewig diep en vas.
Vers 25
O die goedheid Gods wat altyd dieper daal:
uit sy herderstent word Dawid weggehaal,
uit die agterveld waar skape rustig wei,
om nou God se volk as herder-vors te lei.
Hy 't hul gehoed in sy opregtigheid
en hul beskerm deur dapper krygsbeleid.