Psalm 145
Vers 1
U Naam, o HEER, so hoog in heerlikheid,
wil ek verhef vir ewig en altyd;
u Konings-eer wat alle kroon oorstraal,
wil ek verhoog in onvermoeide taal.
Die HERE is groot, daar is geen sanggeluid
wat ooit sy lof in volle waarde kan uit!
Sy lof is 'n see waar niemand in kan meet;
sy lof is 'n vloed waar ons geen grond van weet.
Vers 2
Omdat, o God, in dié geheimenis
vir ons vernuf geen grond of einde is,
daarom prys ons u wérk, u dáád van krag,
van kind tot kind, tot in die nageslag.
Die skitterglans wat vanuit u majesteit
u wonderwerk bestraal met u heerlikheid,
u gedugte krag wat ons van angs laat vrees,
u grootheid, HERE – dit sal my lofsang wees.
Vers 3
Hul sal, o HEER, u goedheid bly herdink
en vir u heil die jubels op laat klink:
genadig, goed, lankmoedig soos weleer,
barmhartig en 'n redder is die HEER.
Alles wat deur Hom die aansyn mag geniet,
is met 'n goedheidstroom mildadig oorgiet.
Daarbuite juig steeds, gehoor en ongehoor,
sy volle kreatuur – ganse skeppingskoor!
Vers 4
Maar bo hul uit weerklink 'n ander prys:
Gods gunsvolk sing sy roem op klaarder wys,
dat elke volk kan hoor die groot gerug
van heerskappy wat wegdreun deur die lug.
U magdaad blink soos 'n son aan die gewelf!
U koninkryk is ewig net soos Uself.
Tog help U, HERE, wie hier voor onheil swig,
wie neerstort, dié word deur U weer opgerig.
Vers 5
Daar 's oë wat in sterk verlange smag,
hul wag op U, ja, alle skeps'le wag:
U spysig hul, u wonderhand alleen
versadig hul en strooi 'n volle seen.
Die HEER is reg in al sy weë en werk
en sy goedheid ken, die wêreld deur, geen perk.
Hy is naby aan die siel wat tot Hom sug
en Hy troos die hart wat skreiend tot Hom vlug.
Vers 6
Hy gee die wens van almal wat Hom vrees;
op hul geroep wil Hy 'n redder wees.
Sy hand verdelg die Goddelose, maar
dié wat Hom liefhet, sal die HEER bewaar.
Maar nou, my siel, waar eindig ooit God se eer?
Nog steeds sal ek uitroep: Lof! Lof aan die HEER!
Laat alle vlees dan vir ewig en altyd
sy heil'ge Naam loof so hoog in heerlikheid!