Psalm 141
Vers 1
As daar vir my geen hulp of raad is,
roep ek, o HEER, hoor my gebed!
Ag, haas U tot my hulp, en red
voordat dit hier met my te laat is.
Vers 2
Laat soos die geur van wierookbrande
my bee wees voor u aangesig;
soos offerspys, saans toegerig,
my biddend opgehewe hande.
Vers 3
Mag nooit my woord U smaad, o HEER, nie!
Rys smaadtaal uit die hart se grond -
ag, wil dit wegweer van my mond,
dat ek u Naam nooit mag onteer nie!
Vers 4
Bewaar my hart, gedagte en handel,
sodat ek nooit die vreug mag smaak,
of deel mag neem aan feesvermaak
van wie in goddeloosheid wandel.
Vers 5
'k Voel my aan liefdetug verbonde:
soos hoofsalf vir my hoof is 't my
as die opregte my kasty;
want liefdetug die laat geen wonde.
Vers 6
Teen bose daad stel ek my bede.
Is hul verleiers swaar gestraf,
gestort van hoë bergrots af,
dan sal hul weet: my woord was vrede.
Vers 7
Net soos 'n ploeg langs donker vore
die kluite her- en derwaarts gooi -
so lê ons beendere verstrooi,
op velde van die dood verlore.
Vers 8
Op U rig ek my wenende oë;
by U, o HERE, skuil ek. Giet
my siel nie uit in my verdriet.
Ek soek my krag in u vermoë.
Vers 9
HEER, hou my in die regte spore,
want manne, vreemd aan trou en reg,
verberg hul vangnet langs my weg:
een misstap, en ek is verlore.
Vers 10
Laat hulle staan waar ek gestaan het;
laat hulle met hul plan en al
tesaam self in hul vangkuil val,
terwyl ek stil verbygegaan het.