Psalm 102
Vers 1
HEER, u goedheid is onendig;
hoor my as ek diep ellendig,
as ek in my krag verkort,
klag voor U soos water stort.
Hoor die hulproep van 'n lyer,
wil u aanskyn hom nie weier;
hoor my in nood, en hoor my nou,
help my, HERE; ag, help my gou!
Vers 2
Net soos rook in stormevlae,
so verdwyn my droewe dae;
my gebeent' is dor geskroei,
soos 'n vuurherd so deurgloei.
En soos plant' in sonnelande,
welk ek by u sonnebrande;
in ellende het ek vergeet,
soos 'n kranke, om brood te eet.
Vers 3
Al my krag wil my begewe;
vlees voel 'k aan my beend're klewe
weëns my benoude sug.
Eensaam voel ek, weggevlug
in woestyne soos die reier –
beeld van die verlate lyer;
soos 'n uil oor 'n bouval heen
sit en tuur, so is ek alleen.
Vers 4
Eensaam klaag ek deur die nagte,
soos 'n duif, my dowwe klagte.
Heeldag smaad die vyand my,
hoor ek in hul raserny
hoe my naam, in my besoeking,
vloekwoord is by hul vervloeking.
As moet ek asof spyse eet
en tranedrank drink in my leed
Vers 5
HEER, waar U my hoog laat word het,
maar in toorn my neergestort het,
is ek soos 'n plant wat kwyn,
en my dae – skaduskyn.
Maar U, HEER, U is onendig,
u gedagt'nis bly bestendig;
die mensgeslagte gaan verby,
maar u roem sal vir ewig bly.
Vers 6
U sal opstaan tot beskerming,
Sion vind by U ontferming;
tyd van smart is eind'lik om,
dag van guns 't oplaas gekom.
En u knegte, in hul smarte,
dink met liefde in hul harte
aan daardie stad wat sonder lof
nog vergruis lê daarin die stof.
Vers 7
Volk' en wie hier hoog in waarde
kroon en septer dra op aarde,
sal, wanneer God Sion bou,
vrees as hul sy mag aanskou;
daar Hy Hom, in hul ellende,
tot die armes heen wou wende
en nie hulle versoek of klag
as nie waardig nie wou verag.
Vers 8
Watter skatte van genade
sal beskryf word op die blade
wat die nageslag sal lees!
Hul sal lofsing op hul fees;
want God het uit mededoë
op gevang'nes, neergeboë,
en op hulle gekerm gelet,
"die kinders van die dood" gered.
Vers 9
Dan sing hul Gods magsvermoë
weer in Sion, opgetoë;
dan weerklink die vreugdestem
uit jou muur, Jerusalem! –
as die volke, saam vergader,
oor die aardbreedt' aan kom nader,
as die konings hulle neerbuig
en Hom hulle ontsag betuig.
Vers 10
Dis die beeld, vol soet behae,
van die ongebore dae.
Maar nóú? Hoe 't ek ingestort!
Hoe 's my lewenstyd verkort!
Toe sê ek, by soveel plae:
HEER, verkort tog nie my dae!
Want, ag, hoe kort is reeds my uur!
Maar u jare het eewge duur.
Vers 11
HEER, die aard' en hemelboë
is die werk van u vermoë.
Hul is saam, in hul verband,
kunswerk van u wyse hand.
Maar hul almal moet verderwe,
U alleen, U sal nie sterwe;
soos 'n kleed sal hulle verslyt,
maar U bly tot in ewigheid.
Vers 12
HEER, in plaas van droef te klae
sien ons ongemete dae,
wanneer eindelik kroos en kind
lewensvolheid by U sal vind.