Psalm 76
Vers 1
Die HEER wat woon in donker tent,
maak Hom by Juda's stam bekend;
daar word sy wonderdaad vertel,
sy Naam is groot in Israel;
in Salem met sy veil'ge skanse,
daar straal sy huis met vredeglanse.
Vers 2
Hy het die vuurge pyl verbreek
waarmee Gods vyand hom wou wreek,
die skild en swaard en oorlogstuig.
Hoe heerlik bo die roofberg ruig
styg U, o God, ver bo die skare
van buiters en geweldenare.
Vers 3
Die held is daar beroof, verswak:
hy het meteens in slaap gesak;
die sterk en dapper mensekind
het daar sy hande nie kon vind.
U dreigstem, HEER, op oorlogsvelde
bedwelm tesaam die perde en helde.
Vers 4
Hoe vreeslik, HEER, is u gerig!
Wie kan bestaan voor u gesig?
U laat van bo die oordeel hoor,
u donderwoord, die wêreld oor;
die aarde, uit skrik vir u vermoë,
lê stilverlate voor u oë.
Vers 5
In stortvloed van sy krag kom Hy
al die sagmoediges bevry;
want grimmigheid en wraakgeweld
van mense moet u lof vermeld.
Die toorn wat oor is van die bende
dien, HEER, as gordel van u lende.
Vers 6
Doen dan geloftes aan die HEER
en lê jul offers voor Hom neer;
laat almal wat die HEER omring,
uit vrees aan Hom geskenke bring.
Hy breek die mens se praalvertonings,
Hy's vreeslik vir die aardse konings.