Psalm 7
Vers 1
My HEER, my God, by wie ek skuiling
en uitredding soek – my teenparty
wat my jaag op al my spore,
dring gedurigdeur naderby.
As u hande my nie verlos nie,
sal hul my lewendig-heel verslind,
soos 'n leeu die arme skaaplam
wat hy sonder 'n herder vind.
Vers 2
O HEER, my God, wat is my sonde?
Het die skuldlas my aangeklewe
dat ek kwaad hom aangedoen het
wat met my as vriend wou lewe?
Nee, want ek het die hand van vriendskap
reddende na hom toe uitgesteek,
ook al was die band van vriendskap
deur sy vyandskap reeds verbreek.
Vers 3
As ek ooit met 'n valse weegskaal
leed vir gunste en die kwaad vir goed
aan my vyand toegeweeg het –
laat sy wraaksug my dan ontmoet.
Laat hom my dan najaag en inhaal
en ook my lewe glad nie verskoon,
my vertrap, my eer verneder
en my kroon in die stof laat woon.
Vers 4
HERE, ontwaak en keer sy gramskap
teen my, met die vuurskerm van u wraak!
Daag hom voor u regtersetel;
en laat my tot my reg geraak!
Straal u vonnis voor die oop oë
van al die volkere op hom neer!
Keer dan majesteitlik, HERE,
na die ewige hoogtes weer.
Vers 5
Hoor my, o Regter van die volke!
Doen aan my, o God, tog waarlik reg!
Bid ek wél, o hoor my bede
na die waarheidsmaat van my weg!
Straf tog die Goddelose bende,
stel aan hul boosheid die perk en paal!
Help my, U wat hart en niere
met u lig van kennis deurstraal.
Vers 6
Soos 'n held met 'n skild gewapen
aanstap sonder las van kommernis,
so voel ek by God my veilig
wat vir my skild en helper is.
Want Hy alleen is hoogste regter
wat so aan die lyder reg verskaf;
elke dag ontvlam sy wraakvuur
wat die werkers van onreg straf.
Vers 7
As die vyand in sy eie moed
homself nie in sy loop wil laat stuit,
dan ruk God, hoewel lankmoedig,
eindelik sy skerp slagswaard uit.
Dan span Hy sy boog en stip mik Hy
met sy brandende pyl, skerp en spits;
en die vyand voor hy neerplof,
sien slegs die dodelike blits.
Vers 8
Want kyk, hy was van onreg swanger,
moeite en leuens het hy versin;
en nou stort hy self, die grawer,
val in sy eie vangkuil in.
Sal ek dan die HEER nie wil loof nie
en aan sy Naam nie wil hulde bring?
Vir sy groot verlossingsdade
sal 'k die Allerhoogste psalmsing