Psalm 83
Vers 1
O God, hou U tog nie altoos
so swygend stil en dadeloos
teen u haters, die onheilsmanne!
Hulle wat steek met 'n groot gerug
die hoof hoog en regop in die lug
en dreig met listig' onheilsplanne.
Vers 2
Teen ons, u volk, smee hul verraad,
teen U, wat is ons toeverlaat,
by wie ons, terwyl skuilgeboë,
teen die storme en die onweerswind,
'n skuilingsvesting en rusplek vind
alleen uit krag van u vermoë.
Vers 3
"Die slagorde is opgestel!
Verdelg, roei uit van Israel
hulle naam en hulle gedagte!
Versamel nou saam die Edomiet,
die Woestynstamme, die Moabiet
en die Ismaelse geslagte!
Vers 4
Hul van Gébal en Amalek
moet saam met dié van Ammon trek."
By die Filistyne se magte
het Tirus en nou, belus op buit,
ook Assursrangordes aangesluit –
hulle, die arm van Lots geslagte.
Vers 5
Wil hulle verdelg en verban,
o God, net soos met Mídian,
soos met Jabin en met sy helde:
hul is gestuit en het neergestort,
hulle het slykgrond en mis geword
op Endor se vrugbare velde.
Vers 6
Maak hulle net soos in weleer
die vorste van Mídian, HEER,
soos dié se saamverbonde konings.
Hulle wat nou staan en sê: "Komaan,
laat ons God se volk finaal verslaan
en laat ons intrek in Gods wonings!"
Vers 7
My God, soos stoppels voor die wind,
soos strooi, verwilder hul geswind,
en jaag hul soos die vlugtelinge!
Vervolg hul, storm op die bendes los
soos vlamme brandend' in berg en bos
wat waai in gloeiend' wilde kringe!
Vers 8
Laat hulle almal voor U swig!
Oordek elkeen se aangesig
met skaamte en met skrik en skande,
sodat hulle sal erken u mag
en wel sal buig voor die HEER's gesag,
Allerhoogste oor alle lande.