Psalm 50
Vers 1
Die God van die gode, die HERE spreek!
Hy roep en Hy daag die aarde, van waar
die son in sy goue glans uit kom breek
tot waar hy weer sterwende neer sal vaar.
Dit is uit Sion, sonder voorbeeld só skoon,
wat God sy ligglans ver en wyd, sprei ten toon.
Vers 2
Onse God kan nie swyg. Hy kom, Hy kom
met vuur wat voor sy aangesig verteer!
Geweldig storm en dreig dit rondom Hom:
Dié regter van die aarde daal nou neer
en roep die aard' en die hemel bowe aan
om, as Hy sy volk oordeel, Hom by te staan.
Vers 3
"Daag nou na hier my volk, roep almal by
wat mét hulle offers nog altyd weer
verbonde maak van trou en liefd' aan My."
Die gerig begin! Die hemele eer
Gods geregtigheid en gee getuienis
dat net Hy alleen ewig regverdig is.
Vers 4
"Kom, Israel en luister na my spraak:
Ek is God, jou God, en my volk is jy!
Ek sal teen jou wel geen verwyte maak
oor offers wat aan My is toegewy:
dit is waar, jou offerbloed en offergeur,
dié is steeds weer voor My altyd, altyddeur.
Vers 5
"Geen stier hoef Ek uit jou huis uit te lei,
benodig geen offerdier uit jou kraal,
want al die diere wat in wildheid wei,
kan Ek van die duisende berge haal.
Ek ken al die voëls op die berge vry,
alles wat beweeg – dit behoort tog aan My.
Vers 6
"Dus sal Ek, o mens, na jóú dan nie kom,
en selfs het Ek honger, vir jóú nie vra,
omdat die aarde is my eiendom –
Myne in al die volheid wat hy dra.
Sou Ek ooit op stierevleis van jóú dan wag,
of op bloed van bokke, wat is vars geslag?
Vers 7
"Kom nou en offer aan God dank en prys!
Geloftes wat aan die Heer is gedaan,
moet betaal word aan Hom met eerbewys!
En roep in tyd van benoudheid My aan:
Ek sal jou sekerlik uithelp, sê die HEER;
en daarom sal jy dankbaar-bly steeds My eer."
Vers 8
Maar aan wie sy wet verwerp, só sê God:
"Wat vertel jy nog steeds van my verbond?
En wat spreek jy nog steeds van my gebod?
Só my heilighede dra in jóú mond! –
terwyl jy tog die roede van my tug haat,
en my woorde verwerp, sodat jy My smaad.
Vers 9
"Wanneer jy 'n dief sien, dán voel jy bly,
en ook aan ontug is jou hart verknog.
Jou mond laat jy in boosheid altyd vry,
terwyl jou tong dié vleg 'n string bedrog.
Dit is jou broer wat jy bejeën met kwaad,
terwyl jy selfs skimpend teen en van hom praat.
Vers 10
"Hierdie dinge doen jy én sou Ek swyg?
Ek kom na jou en sal my oordeel vel.
Ek sal jou nie met my strawwe bloot dreig,
maar ordelik dit jou voor oë stel.
O Godvergeters, verstaan tog: vrees my wet,
sodat Ek nie verskeur, waar niemand kan red!
Vers 11
"Hy wat sy dankbaarheid My offer met
'n hart wat gestem is tot lof en prys,
wat op sy weg en wandel ag en let –
hý is dit wat My waarlik eer bewys.
En, wanneer hy ookal op my guns vertrou,
sal hy daar-en-dan met vreug my heil aanskou."