Psalm 130
Vers 1
Uit dieptes, gans verlore,
van redding ver vandaan,
waar hoop se laaste spore
in wan hoop my vergaan;
uit diep van donker nagte
roep ek, o HERE, hoor,
en laat my jammerklagte
tog opklim in u oor!
Vers 2
As U, o HEER, die sonde
na reg wou gadeslaan,
wie sou een enk'le stonde
voor U, o HEER, bestaan?
Maar nee, daar is vergewing
altyd by U gewees;
daarom word U met bewing
reg kinderlik gevrees.
Vers 3
Soos een wat op die mure
as wagter uitgestel,
gedurigdeur die ure
met sy gedagte tel -
so wag my siel, en sterker,
gedurig op die HEER,
tot Hy, die Ligbewerker,
die nag in daagraad keer.
Vers 4
Hoop, Isr'el in jou klagte;
vertrou, o volk, wat treur;
sy guns verduur die nagte,
sy heil breek eind'lik deur.
Dan skyn 'n soete vrede:
gans Israel word vry
van ongeregtighede.
HEER, doen ook so aan my!