Psalm 23
Vers 1
Net soos 'n herder uittrek met sy skape,
hul laat neerlê in die veld van milde groen,
met sagte hand hul lei langs stille waters –
so is die HEER, so het Hy aan my gedoen:
Hy laaf my siel en lei my swakke skrede
in vaste spoor van sy geregtighede.
Vers 2
En is ek soos 'n skaap in doodsgevare,
wat in die veld as 'n prooi van wolwe gaan,
en moet ek in die doodsdal, diep en donker,
van alle hulp ontbloot, in alleenheid staan –
dan nog ken ek geen doodsvrees of verskrikking,
omdat u staf my troos is en verkwikking.
Vers 3
U bring vir my die tafel in gereedheid,
my hoof druip olie, my beker vloei van wyn,
'n bron van goedheid stroom vir my gedurig;
dis my gees 'n vreug, my vyande 'n pyn;
dit kroon my lewe met u welbehae;
en in u huis, daar bly ek al my dae.