Psalm 5
Vers 1
O HEER, neem my gebed ter ore!
Kan ek die klare woord nie spreek -
U weet wat in my woel en smeek;
my sugte, -as spraak nog ongebore,
is nie verlore.
Vers 2
Ek roep om hulp, ek is onmagtig,
die vleuels van my siel geknot.
Maar U, my Koning en my God,
wees U my, arme, tog gedagtig,
en reddingskragtig.
Vers 3
Wanneer die daglig straal oor rande
van skemerende berge neer,
dan bid en wag ek op die HEER.
Dan lê ek klaar my offerande
met will'ge hande.
Vers 4
O God, wat groot is van vermoë,
wat woon in smettelose lig,
U sal die goddeloosheid rig;
U kan die sondaar voor u oë
geensins gedoë.
Vers 5
U, HEER, verdelg die leuenspreker.
Hy wat sy hand met bloed bevlek
en gruwels met bedrog bedek -
hy terg, as snode wetverbreker,
die hoogste Wreker.
Vers 6
Maar ek, uit krag van u meedoë
mag ingaan in u heiligdom,
tot voor u tempelwoning kom
met ware Godsvrees, voor u oë
diep neergeboë.
Vers 7
Lei my in u geregtighede
om my verspieders wil, en baan
die pad waarop my voet moet gaan.
O hoor my pelgrimsmôrebede:
Bewaak my skrede!
Vers 8
Hul mond is altyd onwaaragtig,
hul binneste-is op kwaad bedag,
hul keel 'n ope graf wat wag;
hul gladde tong, in woorde magtig,
is leuenagtig.
Vers 9
Waarom, o HEER, met hul geduldig?
Dis hemeltergers wat daar woel!
Verdryf hul van u regterstoel.
Hul leef in misdaad menigvuldig:
Verklaar hul skuldig!
Vers 10
Maar laat in eewge blydskap lewe
wie by U skuil in veil'ge hut,
en laat hul juig, deur U beskut.
U Naam, grootmagtig en verhewe,
bied vreugdelewe.
Vers 11
Daar's vreugde, want u mag bekroon hul,
u seën is oor hul ryk en mild,
u sorg is om hul soos 'n skild,
u welbehae, HEER, beloon hul,
u guns verskoon hul.