Psalm 71
Vers 1
Op U alleen, my Rotssteen bou ek.
Laat my dan nimmermeer
in smaad verval, o HEER!
Op u geregtigheid vertrou ek.
Verhoor my, red my lewe;
dis aan U oorgegewe!
Vers 2
Wees my 'n rotssteen hoog verhewe,
hoog teen 'n bergwand aan,
waar 'k altyd in kan gaan.
U het beveel dat ek sal lewe;
en 'k leef, o grote Ontfermer,
my Toevlug en Beskermer!
Vers 3
Ruk my tog uit die wrede kloue
van hul wat onreg werk,
geweld'naars my te sterk.
U is die God van my betroue
vanaf my eerste skrede
en jonkheids ver verlede.
Vers 4
Ek het gesteun op u vermoë;
van moeders liggaam aan
het U my bygestaan.
Daarom loof ek u mededoë;
my loflied tot u ere
sal nie verstom, o HERE!
Vers 5
'n Wonder vir wie my aanskou het,
was ek, want inderdaad
was U my toeverlaat
oor wie ek roem, op wie 'k vertrou het.
My loflied tot u eie
sal nie verstom, o HERE!
Vers 6
As haas my lewensdag gedaan is
en skemering daal neer -
verlaat my dan nie, HEER!
Versterk die krag wat al vergaan is,
dat met die aardse lewe
u hulp my nie begewe.
Vers 7
My haters loer nou op my lewe,
die vyand hoor ek praat;
tesame hou hul raad:
"Sy God, sy vriend, het hom begewe;
vervolg, gryp aan, beset hom,
want niemand help of red hom!"
Vers 8
My God, wees tog nie ver van my nie;
kom haastig na my aan
dat hul beskaamd kan staan!
Betoon aan hul geen medely nie,
en laat hul skendershande
hul wikkel in hul skande.
Vers 9
Ek voel my sterk, aan U verbonde;
my mond vind tot u lof
gedurig ruimer stof.
U redding meld ek elke stonde;
al kan ek dit nie skat nie,
besyfer of bevat nie.
Vers 10
Nou kom ek aan met forse skrede,
my lof is sonder maat,
vir u verlossingsdaad.
Ek meld van jeugtyd en verlede -
hoe U my, onervare,
gelei het al my jare.
Vers 11
Ek soek, o God, aan U verbonde,
u hulp, nou ouderdom
en grysheid oor my kom.
Verlaat my nie; gun tyd en stonde;
Dan stel 'k u magsvermoë
Aan kind en kroos voor oë.
Vers 12
Ek roem, o God, u alvermoë,
'k roem u geregtigheid,
wat uitstraal ver en wyd
en heerlik skitter uit die hoë.
Wie is soos U, o HERE,
So groot in mag en ere.
Vers 13
U het my baie teëspoede
laat sien; maar U sal my
weer van die dood bevry,
my ophaal uit die watervloede.
My grootheid - maak dit meer,
En troos U my, o HEER!
Vers 14
Ek sing 'n lofsang by my snare,
'n lied van troos en trou
waarin 'k u lof ontvou,
o Heilige by Isr'els skare!
Ek roep, tot vreug herbore:
"Verlos, en nie verlore!"
Vers 15
Ek meld teenoor hul onheilsplanne,
My vyande ten spyt
Steeds u geregtigheid.
Daar stuit hul nou, die onregsmanne,
Op eie kronkelweë,
Verlate en verleë.