Psalm 18
Vers 1
Ek het U hart'lik lief, o HERE, my God!
U is my sterkt' en beskikker van my lot.
Die HERE 's my rots en my vesting sterk.
Hy is my redder wat my heil bewerk,
my stewige rots wanneer die stormwind huil,
my skild en die weerkragshoring van my heil,
my God, my vesting op die bergkrans steil.
Hy is by wie ek vas en veilig skuil.
Vers 2
Tot U HERE, van wie my lofsange is,
roep ek in diepte van my benouenis,
en – van my vyande word ek bevry!
Want bange bande van die dood het my
omring en oorval soos strome van verderf,
wat aanstorm uit die hart van die donker wyk
van kuil en graf en swarte doderyk,
met kwellinge groot waar die hart by sterf.
Vers 3
Deur donkere magte, wat staan troep aan troep,
omsingel, het ek die HERE aangeroep;
ek het in doodsangs benoud uitgebreek,
geroep tot my God en om hulp gesmeek.
Hy het na my geluister en my verhoor:
Hy het my hulproepstem luid omhoog laat rys,
dit het deurgedring tot in sy paleis,
en het opgeklim binne-in sy oor.
Vers 4
Toe het die aard' geskud in haar ingewand,
die bergfondamente in hul vaste stand
gebewe en gesidder skrik-verras
van vrees, omdat die HERE toornig was.
Ook het rook in sy neus uit- en opgegaan,
terwyl daar vuur wat verteer na alle kant,
uit sy mond en lippe voortdurend brand,
sodat vlammende kolegloed uitslaan.
Vers 5
Die hemelspaan het aan Hom ontsag betuig
en by God se neervaart het dit neergebuig;
en donkerheid soos van die watervloed,
'n onweersnag was onderom sy voet.
Hy het 'n gérub gehad as oorlogswa
en so het Hy voortgevlieg en aangesweef
– terwyl dit om Hom skud, sidder en beef –
op vleuels van die wind verder gedra.
Vers 6
In die hut van duisternis het Hy genaak,
in die donker nag wat rondom Hom bewaak:
in die duisternis van waters alom
en digte diktes van die wolkkolom.
Deur die glanse voor Hom en ook om Hom heen,
wat sy gloriewese gans en al oordek,
het swaar sy wolke heen verbygetrek
met gloeiende kole en haelsteen.
Vers 7
Die HERE het laat donder die hemel oor,
en die Allerhoogste, God sy stem laat hoor –
sy stem met gloeiend' kool en haelsteen,
was dié drie tesame en wild deureen.
Hy het sy pyle na hulle uitgestuur
en so húlle verstrooi wat vir my beveg,
sy bliksems het Hy deur hul heen gevleg
en hulle verwar in hul onheilsuur.
Vers 8
In beddings waarop die waters het geloop,
raak die rotse tot by die wortels toe oop.
Die see het gewyk uit sy stille skoot
en sleep daarby die aard' se grondves bloot.
So het God die wêreld, daarvan stomverbaas,
laat sidder en bewe van sy dreigement,
Homself bulderend na omlaag gewend,
terwyl Hy 'n stormwind van gramskap blaas.
Vers 9
Sy hand het Hy uit die hoogte uitgestrek,
Hy het my gegryp, uit dieptes my getrek,
Hy het my vyande, te sterk vir my,
stewig gebreidel in hul raserny.
Hul het my oorval op die dag van my nood.
Maar die HERE my helper, was my naby;
in die ruimtes het Hy my uitgelei,
omdat in my, was sy behae groot.
Vers 10
Die HEER het my teen die trots van hul geweld,
uit genade, my geregtigheid vergeld.
Ja, en ook na die reinheid van my hand
doen die HERE sy woord aan my gestand.
Want ek het nie, aan die HEER se stem ontrou,
sy weë verlaat, en nie aan hul gelyk,
wat Goddelooslik van Hom af wou wyk,
maar het aan die spoor van my God gehou.
Vers 11
Want al sy verordeninge was voor my,
ek het sy insettinge getrou gebly.
Maar was opreg van hart en siel voor Hom,
wou op my eie onregspad nie kom;
sodat die HERE, mag sy trou wees tot prys,
en na die reinheid, voor sy oog, van my hand,
sy woord aan my gegee het as my pand
en aan my geregtigheid toegewys.
Vers 12
U betoon U barmhartig, vol derenis,
aan dié wat liefderyk en barmhartig is;
en aan hom wat opreg is, U sal hom
ook met milde opregtheid teëkom.
En by hulle wat die reinheid rein bemin,
betoon U, wat die Heilige is, U rein;
maar vir hulle wat leef in valse skyn,
is U ook self teenoor verkeerd van sin.
Vers 13
Die HEER verlos die volk van 'n harde juk
van hul wat hier en nou sug in leed en druk;
maar Hy sal verneder hulle wat hoog
en vol ydelheid is van hart en oog.
Want U laat my lamp brand in die donker uur;
Die HERE my God laat my donker opklaar!
Want met U loop ek storm 'n leërskaar
en met my HERE spring ek oor 'n muur!
Vers 14
Die weë van God is gans volmaak soos Hy,
die woord van die HEER van al wat smet is, vry,
soos goud, wat gelouter is sewe maal.
Die HERE is 'n skild van keurmetaal
vir almal en elkeen wat op Hom vertrou.
Want wie is daar buiten die HERE, ons HEER!
U is die Rots, daar is geen ander meer,
op wie ons altyd en eewg weer kan bou.
Vers 15
Dit is God alleen wat my met krag omgord
en deur Hom het my weg volkome geword.
Verder laat Hy my voete op dié baan
so maklik en vlug soos die herte gaan,
en lei my na die verhewe hoogtes dan
waar daar is rus, seëpraal en heerskappy;
Hy leer my hand om in oorlog te stry,
sodat my arm 'n koperboog kan span.
Vers 16
Ook gee U die skild van uitredding aan my,
u regterhand was deurentyd my naby;
u goedheid het tot dig by my genaak
en my uit my kleinheid weer groot gemaak.
U het my voetstap ruim gemaak onder my,
en my enkels het my nimmermeer gefaal;
ek het my vyand gesoek, ingehaal,
verdelg, totdat nie een het oorgebly.
Vers 17
Ek het hulle gans verbrysel en verslaan,
sodat van hulle geeneen weer op kon staan.
U het my aangegord met krag en moed,
gestruikel het hulle onder my voet.
My teëstanders het gebuk en geval,
U het my vyande vir my weg laat vlug;
en vir my haters was ek so gedug
dat hulle vernietig is, gans en al.
Vers 18
Hulle het om hulp geroep, maar geen gekry,
ook tot die HERE, maar Hy het stilgebly.
Toe het ek hul vergruis, vermaal, verjaag,
en het soos straatslyk hulle weggevaag.
God het my gered van my dienaars se twis,
en U het gemaak dat uit die heidendom
vreemde nasies onder my voetbank kom
en volke aan my onderdanig is.
Vers 19
Hulle was aan my gehoorsaam as hul oor
net terloops van my roem en dade iets hoor.
Uitlanders het al kruipende gekom;
uit hul vestings skuif hul kragteloos, krom.
Die HERE leef! 'n Lofgedig aan my Rots!
En laat die HERE, my heil, sy groot gemaak!
Want Hy gee my op my vyande wraak
en onderwerp aan my die volke, trots.
Vers 20
Ja, dit is U wat my red, my hoog verhef,
my vyande fnuik en die tiranne tref –
daarom wil ek U loof, U singend eer,
U onder die nasies groot maak, o HEER,
en U vir al my groot verlossinge prys!
Aan u gesalfde koning is guns bewys,
ewig aan Dawid en sy nageslag:
aan U kom toe die eer en roem en krag!