Psalm 147
Vers 1
Laat voor die HERE 'n lofsang rys!
Hoe goed is dit om ons God te prys!
Hoe lieflik om van dié lof te sing,
die loflied wat ons aan Hom moet bring!
Want die HEER wil ons in guns aanskou;
die HEER wil Jerusalem herbou
en Israel wat verstrooid nog swerf,
versamel op die heilige erf.
Vers 2
Hy heel die gebrokenes van hart,
en Hy verbind hulle in hul smart.
Sy oë speur oneindiglik ver;
Hy tel en gee naam aan elke ster;
sy krag en kennis is ongemeet –
oorweldig al wat ons ken en weet.
Die sagmoediges verhef Hy weer,
maar die Goddeloses werp Hy neer.
Vers 3
Sing daarom voor die HERE u dank,
psalmsing tot Hom by die siterklank!
Hom wat die lug met wolke oorsprei
en vir die aarde reën berei,
wat op die berge, die gras en kruid,
die voedsel vir die vee laat uitspruit
en die rawe-nes op milde wys
versorg, wanneer dit uitroep om spys.
Vers 4
Gods sterkte is nie soos mensemag
wat heil van oorlogsperde verwag,
of van die bene, so sterk gebou,
waarop die krygsman wel vas vertrou.
Maar húlle alleen kan Hom behaag
wat nederig na sy sterkte vraag
en, hoe dit ookal mag teëloop,
die HEER vrees en op sy goedheid hoop.
Vers 5
Laat dan nou jou stem, o Salem, rys!
O Sion, wil nou die HERE prys!
Hy dek jou dig vir slag en vir stoot
en versterk jou poorte teen die nood.
Hy seën jou kinders met jou mee,
wanneer Hy jou land die vrede gee.
Hy laat jou akkers wuiwende staan
en voed jou met net die beste graan.
Vers 6
Hy stuur uit, van bo, sy koningswoord
en snel vlieg dit heen van oord tot oord.
Dit is die God van die lug en weer
wat strooi soos wol sy sneeuvlokkies neer.
Die natuur moet op sy wenke pas,
want Hy strooi rondom sy ryp soos as;
die waters groei tot ysblokke aan –
wie kan voor so 'n koue bestaan?
Vers 7
Hy stuur sy woord en sy wind – hul smelt
en die waters stroom weer oor die veld.
So laat hy dan guns op almal daal;
oor Israel het die wonderstraal
van woord en van waarheid opgegaan;
so is aan geen ander volk gedaan.
Húlle ken sy ryksverordening;
húlle moet uit dank sy grootheid sing!