Psalm 28
Vers 1
Ek roep U aan, o my HERE, hoor!
Verleen aan my bystand, neig u oor,
dat ek nie word, daar ek U moet mis,
soos dié wat weg in die grafkuil is.
O hoor as ek, my stem al week,
om hulp U aanroep in gesmeek,
Vers 2
my hande hef na heilige plek
waar 'n donkerheid u bondskis dek.
Ruk my nie weg in 'n jammmerstaat
saam met al die werkers van die kwaad,
wat wel hul woorde glad vernis,
maar in hul hart is haat en twis.
Vers 3
Vergeld hulle nou hul bose daad,
die vrug van hul selfgebroude kwaad;
beloon hulle na hul werk en sin,
en skink hul eie drank hulle in.
Omdat hul op die HEER se werk,
die hoogheid van sy hand nie merk,
Vers 4
sal Hy wat sélf alle werk deurskou,
hul afbreek en hulle nie meer bou.
Geloofd sy die HEER, Hy het sy oor
na my geneig, weer my stem gehoor;
my sterkte en my hulp is Hy,
'n skild my altoos dig naby.
Vers 5
Dus steun my hart enkel op u mag,
daarom jubel ek met al my krag.
U is ons sterkte en teëweer,
'n rots vir u gesalfde, o HEER!
Verlos ons uit benouenis,
en seen hul wat u bondsvolk is;
Vers 6
wees hulle 'n herder vir altyd,
en dra hulle tot in ewigheid!