Psalm 2
Vers 1
Wat dring en dryf die wilde heidendom,
dat volkere raas in opgewondenheid?
Gedugte konings staan gereed alom,
en wêreldgrotes beraadslaag vir die_ stryd,
om God die Almagtig' na die kroon te steek
en saam teen sy Gesalfde op te staan.
Hul sê: "Kom nou en laat ons hul bande breek,
en van hul juk vir altyd ons ontslaan!"
Vers 2
Maar God die HEER wat sy gedugte stoel
bowe sterre stig, sien van sy hoogtes neer;
Hy lag en spot dat hul so vrugt'loos woel
en, magteloos, verniet hul kragte ver_teer.
God sal sy wraak laat neerstraal voor hul oë;
dan gloei die lug van vlammmend' onweerslig.
Dis God wat spreek! Hy donder van omhoë
en jaag sy skrik hul in die aangesig.
Vers 3
"Durf jy dit waag om met my krag te twis?
Sal nietige stof My my gesag ontwring?
Of weerstand bied aan wie almagtig is?
Ontsien my toorn, o verdwaasde sterwe_ling!
Vergeefs wil jul my ryksbestel weerstrewe.
Ek het my Vors gesalf – wee, wie Hom hoon! –
op Sionsberg van heiligheid omgewe,
waar Hy sal heers en ewig sit ten troon."
Vers 4
En Ek, dié Vors, so hoog in mag en eer,
sal God se besluit die wêreld oor laat klink:
"Ek self (sê God) het U gegenereer:
U is my Seun, uit wie my beeltenis_ blink.
Spreek dan u eis, en Ek skenk dit U gewis.
En dat u troon vir ewig vas mag bly,
gee Ek die volkere tot u erfenis
en wêreldwydtes tot u heerskappy.
Vers 5
"Die trotsaards sal U met u ysterstaf
net soos erdepotte slaan tot gruis en skerf;
U sal, as eers u hand ontwaak tot straf,
hul opstandingslus tot in die grond ver_derf."
O konings, so graag gehuldig en geëer –
laat nooit u hoogheid Gods Gesalfde hoon!
O regters, wat oortreders die regstug leer,
aanvaar die tug wat u sy liefde toon.
Vers 6
Kom, dien die HEER en wees in Hom verblyd
met 'n blydskap wat Hom huldig as die HEER,
en kus die Seun in onderworpenheid,
buig jul dan voor Hom met vrees en bewing_ neer.
Want ligtelik kan Gods gramskap jul verteer
net soos 'n vuur, eers alte klein geag.
Welsalig wie vir Hom huldig as hul HEER,
wie by Hom skuil en op sy bystand wag.